BlogsOpinion

Hoofartikel: Dit is soos iets uit ’n fliek …

Binne een week het die virus ons lewens — soos dié van mense wêreldwyd — op sy kop gekeer.

Die afgelope week was soos iets uit ’n distopiese fliek: Massahisterie, paniekaankope, verlate plekke. En vrees.

Stapelgek mense wat die winkels invaar en varsprodukte soos vrugte en groente en koeke (van alle dinge!) in hul trollies laai. Kompleet soos die ryk mense op die Titanic wat almal uit die pad gestamp het om in die reddingsbote te spring.

 

Collage: flickr

 

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van die drastiese stappe om die verspreiding van die Covid 19-virus te keer, het Suid-Afrikaners soos ’n vuishou in die maag getref.

Binne een week het die virus ons lewens — soos dié van mense wêreldwyd — op sy kop gekeer.

Terwyl daar steeds mense is wat skouers ophaal en dink dit raak hulle nie, vertel ander lesers van Die Pos die afgelope week van bruilofsfeeste en doopgeleenthede wat afgestel moes word, geliefdes wat in ander lande vasgekeer is en nie kan huis toe kom nie, sakeondernemings (veral in die reis- en toerismebedryf) wat hul deure sluit, werkende ouers wat met hul hande in die hare sit omdat skole landwyd gesluit is, miljoene rande wat in die water is omdat sport- en ander geleenthede gekanselleer moes word en mediese personeel wat begin swig onder die druk.

Waar laat dit alles ’n nugterdenkende mens?

As ’n ouer met kinders wat vrae vra en antwoorde soek, moes ek dié week mooi dink oor watter boodskappe ek tuis oordra. Want gesonde tieners met sterk immuunstelsels is nie noodwendig lus om hulself te isoleer en weg te bly van groot groepe vriende nie.

Totdat ’n mens hulle — sonder om onnodige paniek te skep — herinner aan die 80-jarige ouma in ons familie, die persoon wat tans chemoterapie ontvang, die pasgebore baba — almal mense na aan ons wat as hoëriskogevalle beskou word. Hierdie is ’n boodskap wat selfs ’n kind begryp: Dit gaan nie net oor jou nie.

Maar miskien die beste raad wat ek op sosiale media — ja, ook die grootste verspreider van bog en vals nuus — gekry het, is dié raad: “Kyk uit vir die helpers. In tye soos dié sal ’n mens altyd mense vind wat help.”

“Hoe kan ek help?” Is nie verniet vanjaar Die Pos se leuse nie. Ons wil gráág help. Deur mense verantwoordelik in te lig oor hoe om veilig te bly. Deur boodskappe van hoop te versprei. Deur inwoners aan te moedig om steeds hul plaaslike sakeondernemings te ondersteun. Deur honderde koekies seep aan minderbevoorregte gesinne te voorsien.

Maar bo alles: Om kalm, dog verantwoordelik, te bly.


  • Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser,

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

Related Articles

Back to top button