Local newsNews

Bly so besig én positief by die huis

O, om by die huis te kan bly en gehaltetyd met jou gesin te hê — baie van ons smag na so ’n geleentheid.

Met vrese oor die Corona-virus, oftewel Covid-19, wat die wêreld in sy greep het, kom daardie tyd dalk in ’n ander vorm as wat ons verwag het. In lande wat swaar getref is, is mense al weke en maande lank in kwarantyn en vasgevang in hul woonplekke. Dit kan uitdagings bring as die huismense gefrustreerd begin raak.

Die Pos het gaan soek vir goeie raad:

Kenners beveel aan dat ’n mens by jou roetine bly. Dit skep ’n gevoel van veiligheid; nie net vir kinders nie, maar vir volwassenes ook. Staan op, was, trek aan en eet ontbyt. Eet jou gereelde etes. Beplan wat julle gedurende die dag gaan doen. Mense wat nie genoeg slaap of reg eet nie, is nie aangename huismaats nie.

Tegnologie sal ons redding wees om verveling teë te werk. Kyk rond vir leersame en oulike toepassings (apps) om die kinders besig te hou. Moenie jouself heeltemal afsny van die buitewêreld nie en hou kontak met vriende en familie. ’n Whatsapp-geselsgroep kan almal gedurende dié spanningsvolle tyd help.

Wanneer die kinders moeg raak vir hul selfone, tablette en Playstations, kan ons teruggryp na dinge uit ons eie kinderdae. Kry ’n pak kaarte en leer nuwe kaartspeletjies aan, leer jou kinders skaakspeel, trek “hop, skip and jump” strepe op die plaveisel met bordkryt (of teken net lekker groot prente) of kry uiteindelik daardie frustrerende Rubix Cube wat agter in die kas lê, opgelos (daar is YouTube-video’s wat die geheim weggee). Onthou die handeklap-speletjies wat ons ure lank as kinders gespeel het? Of die skaduweediere wat ons saans voor ’n kers teen die muur gemaak het? Onthou ook van die goeie ou staatmakers soos soutklei, gebakte klei, slym, papiermaché en borrelsblaas.

Trek Google nader vir basiese wetenskapprojekte — daar is ’n magdom interessante, maklike projekte beskikbaar.

Vaar die klerekaste in en trek snaaks aan. Of nog beter — hou ’n gesinskonsert op die eetkamertafel!

Gebruik die tyd en leer jou tienerseun kook. Jy kan ook jou eie lyf Masterchef hou en nuwe resepte probeer — dit kan nogal jou vaardighede toets as jy net kan kook met die bestanddele wat jy beskikbaar het!

Lees storieboeke vir die kinders en as die boeke min of vervelig raak, dink self stories uit en vertel.

Die tyd by die huis is ’n goeie kans om in te haal met skoolwerk waarmee kinders sukkel. Ook vir ouers om meer betrokke te raak met wat die kinders by die skool leer.

As jy jou kinders se skermtyd wil beperk, ruil kyktyd vir tyd wat hulle aan huishoudelike take gee. Die skottelgoed gaan nie vanself skoon kom nie.

Om lank afgesonder te wees, sal nie net vir kinders ’n uitdaging wees nie.

As jy van die huis af moet werk, rig ’n kantoorspasie in en leer jou kinders dat hulle nie moet steur wanneer jy besig is nie.

As jou woonplek klein is, moenie ophou om aktief te wees nie. Soek vir joga-, pilates- of ander oefenvideo’s aanlyn. Kenners sê dit is steeds veilig om te gaan stap solank mense hul afstand van mekaar hou. Ons dorpe het mooi plekke daarvoor.

Trek ’n goeie boek nader. Bestel aanlyn of klop aan by die Leeskring in Modimolle waar jy boeke goedkoop kan uitleen. Jou wêreld verbreed en die storie se spanningslyn hou jou kop besiger as die spanning oor die Corona-virus. Hierdie is die ideale geleentheid om daardie dinge waarvoor jy nooit tyd het nie, aan te pak. Leer hekel, rekenaarkodering doen of ’n nuwe taal praat.

Ontdek nuwe musiek en kunstenaars. ’n Mens kan ure verwyl deur op die internet na nuwe talent te luister en uit te vind waarvan jy hou. Goeie kunstenaars is nie noodwendig altyd so wyd bekend nie.

Al kan julle nie saam koffie of ’n bier gaan drink nie, is daar geen rede om nie in gereelde kontak met vriende en familie te bly nie. Tegnologie kan help dat die afsondering nie so erg voel nie.

Moenie in negatiewe gedagtes verval nie — dit raak ’n lelike kringloop wat tot depressie kan lei. Bly positief, bly in kontak met geliefdes en maak die meeste van die onverwagse gesinstyd — julle gaan vir jare hierna nog hieroor praat. Maak dit goeie herinneringe.


  • Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalterBeste leser,

    As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

    Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

    Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button