Local newsNews

Inwoner kry steke ná stamp teen kop by lisensiekantoor

’n Inwoner van Vaalwater moes agt steke kry nadat hy sy kop teen ’n lugversorger by die Modimolle-lisensiekantore gestamp het.

Erik Hedin dring daarop aan dat die veiligheidsmaatreëls verskerp word sodat daar nie nog iemand seerkry nie. Hy het die kantoor in Joe Slovostraat op Dinsdag 17 Maart besoek om sy bestuurderslisensie te hernu. Op pad terug na sy voertuig het hy in die lugversorger, wat omtrent kophoogte is, vasgeloop.

 

 

“Ek het baie gebloei. Mense wat daar rondgestaan het, het gehelp om die bloeding te keer,” het hy gesê.

Volgens Hedin het hy die saak onmiddellik met die bestuurder opgeneem, maar is onvriendelik meegedeel dat die lugversorger nie ’n gevaar is nie omdat dit met rooi waarskuwingsband toegespan is.

“Daar was dalk vroeër van die waarskuwingsband gespan, maar dit het lankal verweer en is afgeskeur,” het Hedin gesê. Hy is na die munisipale kantoor toe om die saak met die munisipale bestuurder op te neem, maar dié was nie beskikbaar nie. Hy is na die veiligheidsbeampte verwys wat gesê het hy sal dit opvolg en aangebied om Hedin hospitaal toe te neem.

“Ek het verkies om na my eie dokter toe te gaan, wat die wond met agt steke geheg het,” het hy gesê.

Ek voel dat daar dringend volgens die beroepsveiligheidswet aandag aan die lugversorger, wat so gevaarlik geplaas is, gegee moet word.” Hedin het gesê diegene wat hom gehelp het, het gesê mense loop gereeld in die lugversorger vas.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het by navraag gesê hulle sal aandag aan die probleem gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button