Local newsNews

Warmbad Rusoord sal mooi na hul bejaardes omsien

Die Warmbad Rusoord se tehuis vir bejaardes het die afgelope week nuwe maatreëls ingestel om hul inwoners en personeel teen die koronavirus (Covid 19) te beskerm.

Anne van Blerk, Rusoord se uitvoerende hoof, het by navraag gesê dit gaan tans baie goed met die tehuis se 100 inwoners en personeel ten spyte van aanpassings wat gemaak moes word.

Die bestuur het reeds besluit om die getal besoekers te verminder deur slegs naasbestaandes van bejaarde inwoners vir besoeke toe te laat.

Teen druktyd het pres. Cyril Ramaphosa se bevel dat die hele land in ’n staat van inperking geplaas moet word, pas bekend geword en is besluit dat geen besoekers tot verdere kennisgewing toegelaat sal word nie, “Al ons bejaardes is darem gesond. Een inwoner het verkoue gehad, maar is weer op die been,” het Van Blerk gesê.

“Ons het bejaardes gehad wat die afgelope week hul kleinkinders se troue elders bygewoon het. Die reëling was vooraf getref dat hul by hul terugkeer vir 14 dae in afsondering sal bly. Hulle gaan slegs in hul kamers bly, maar hulle het al die hulpmiddels in die kamers beskikbaar.”

Die werknemers is nou verplig om soggens aan te meld vir diens en sal eers smiddae wanneer hul werkdag verstreke is, toegelaat word om die perseel te verlaat. Dié maatreël is ingestel om inwoners se gesondheid te beskerm.

Sanitasieprodukte is ook reeds op verskeie plekke in die tehuis gesit en inwoners en personeel word aangemoedig om gereeld van die produkte te gebruik.

Die inwoners sal steeds onder mekaar kan kuier en saam die Rusoord se kerkdienste bywoon en speletjies speel.

“Ons bid dat die virus nie verder in Limpopo versprei nie. As ons almal ons kant bring, sal dit onder beheer gebring kan word,” het Van Blerk gesê.


  • Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser,

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button