Oud-Warrie terug in dorp ná senutergende tyd in China
Brand het haarself sedert haar terugkeer vrywillig in afsondering geplaas.
Talle Suid-Afrikaners wat in China gewoon en gewerk het, het reeds na Suid-Afrika teruggekeer nadat die gevreesde koronavirus daar uitgebreek het.
Die meeste in Limpopo is tans by hul wonings of plekke soos die staatshospitaal in Polokwane of die Ranch Hotel buite Polokwane onder kwarantyn geplaas.
Een oud-Warrie, Naidene Brand, het onlangs na Bela-Bela teruggekeer nadat sy drie jaar lank Engelse klasse in die stad Wenzhou aangebied het. Wenzhou is aan die oostelike Chinese kus geleë; ongeveer 12 uur se reistyd weg van Wuhan, waar die uitbraak ontstaan het.
Brand het haarself sedert haar terugkeer vrywillig in afsondering geplaas.
Sy het haar storie met Die Pos gedeel.
“Ek het my werk in China baie geniet en goeie vriende gemaak, maar soos elke land het China ook positiewe en negatiewe aspekte,” het sy vertel.
“Ons sou oorspronklik ’n twee weke lange vakansie van middel-Januarie tot in Februarie gehad het om die Chinese nuwejaarsvieringe mee te maak. Ons kon in die eerste paar dae van die vakansie ’n paar lekker aktiwiteite doen, maar toe ek en ’n vriendin een dag na die naaste inkopiesentrum gegaan het, het ons opeens mense gesien wat almal met maskers rondloop.”
Die skool waar sy was het aanvanklik baie min inligting oor die uitbraak aan personeel verskaf. Onderwysers het ook nie inligting oor die voorsorgmaatreëls gekry nie, het sy vertel.
“Die regering het ons op ’n dag ingelig dat slegs een persoon per huishouding elke tweede dag mag uitgaan vir benodigdhede soos kos. Ons het elk ’n kaartjie gekry met ons naam en adres op en sodra ons ons gebou verlaat het, het mense met beskermde oorpakke die kaartjie geteken.”
“By die supermark het mense ons temperature geneem en die kaartjie is weer geteken. So het hulle ons heeltyd dopgehou, want ons was vir twee maande tot ons wonings beperk. Dit was geestelik baie uitdagend.”
Skoolpersoneel kon vir twee maande nie klas aanbied nie en personeel het gesukkel om finansieel te oorleef, het Brand vertel.
“Volgens wet was ons veronderstel om ons volle salarisse vir Februarie te ontvang al het ons nie gewerk nie. Ons het wel ’n klein bedrag ontvang, maar dit was nie genoeg om van te leef nie,” het sy gesê. Haar kontrak sou eers in Mei verstryk het.
“Ek het my familie gekontak en ons het besluit ek moet eerder terugkeer huis toe. Ek het my reisagent in Shanghai gebel, wat alles in sy mag gedoen het om my terug by die huis te kry.”
Sy is weer in Shanghai, nadat sy ’n vyf uur lange treinrit afgelê het, vir simptome van die virus ondersoek, waarna sy ’n vlug terug na Suid-Afrika kon neem. Haar vlug is egter skielik gekanselleer.
Danksy haar reisagent kon sy toe op ’n ander vlug klim.
“Hulle het ons op die vliegtuig gehou totdat elke passasier se temperatuur geneem is. Toe ons uiteindelik in Suid-Afrika land, het hulle ons omtrent vyf keer weer by die lughawe getoets. Daar is net gesê dat ons reguit huis toe moet gaan — met my beskermde handskoene en masker steeds aan —en onsself vir twee weke afsonder. Niemand op die vlug het simptome getoon nie.”
Terug in Bela-Bela en na amper ’n week in afsondering het sy steeds geen simptome getoon nie.
“Ek dink nie mense moet paniekbevange word nie. As ’n mens streng by die voorsorgmaatreëls hou wat die president afgekondig het, is jy relatief veilig. Ek voel dat daar so baie valse inligting op Facebook en ander sosiale media versprei word, dat jy nie alles moet glo nie,” het sy gesê.
Sy het ten slotte gesê dat sy geen planne het om terug te keer na China nie en beoog om verder te studeer.
“Aan God al die eer, want ek sou sonder Sy genade nooit sterk genoeg gewees het om alles deur te maak nie. Ek is veral dankbaar teenoor my familie en vriende wat vir my aangehou bid het in hierdie moeilike tyd.”
- Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.



