
Daar is ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van inperking ooreengekom dat slegs gesondheidswerkers, nooddienspersoneel, die polisie, verkeersbeamptes, die Weermag en enkele ander werkers vryelik mag rondbeweeg.
“Buurtwaglede is tans op bystanddiens. Indien die polisie hulle hulp nodig, sal die polisie hulle hulp inroep,” het Gerhard Olivier, lid van die plaaslike reaksiespan (RSRT) in die dorp, gesê.
Daar sou na verwagting toestemming deur kol. Abel Phetla, Bela-Bela-stasiebevelvoerder, aan buurtwaglede gegee word om voort te gaan met hul werk, maar volgens Chris Esterhuizen, voorsitter van die Roodekuil-, Turfbult- en Langlaagte-buurtwag (RTL), is dit nie so eenvoudig om net toestemming te verleen nie.
“Die lede werk op vrywillige basis en omdat die meeste mense nie nou kan werk nie, sal hulle nie geld hê vir dinge soos brandstof nie. RTL en die Radium-buurtwag se lede sal voorlopig geen patrollies ry nie, maar ons sal op bystand wees.”
Deon Beukes, GPF sektor 1-voorsitter, het by navraag gesê elke inwoner moet hul kant bring om hul eie veiligheid te verseker tydens die inperkingstydperk.
“Mense moet verstaan dat hierdie inperking niemand toestemming gee om hul wonings te verlaat om patrollies te onderneem nie. Die buurtwagte neem tans geen nuwe lede in nie. Slegs die polisie sal van nou af die nodige wetstoepassing vir die duur van die inperkingstydperk hanteer.”
Hoewel die Weermag in verskeie dele van die land ontplooi is, is nog geen soldate teen druktyd in die omgewing gewaar nie.



