Hennie en Marie Coertze (albei in hul laat 70’s) van Bela-Bela is in die vroeë oggendure van Dinsdag 8 Mei deur vier rowers in hul slaapkamer in hul huis op die Alma-pad oorval, vasgebind en beroof.
Die egpaar is Roelof Coertze, bekende mediese dokter in die dorp, se ouers.
Volgens kol. Lindie Marx, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het die rowers ongeveer 01:15 die veiligheidsdeur voor die huis met ’n koevoet oopgebreek.
Marx het gesê die rowers het die egpaar, wat geslaap het, wakker gemaak, ’n handwapen teen Hennie se kop gedruk en op waardevolle items aangedring.
Die egpaar is vasgemaak terwyl die verdagtes die huis deursoek het.
Die rowers het met die egpaar se twee voertuie, vier vuurwapens, duisende rande se kontant, juwele, ’n televisie, kragopwekker en ander items op die vlug geslaan.
Volgens Marx kon Hennie en sy vrou teen ongeveer 03:00 loskom en hulp ontbied.
Hulle het kneus- en skaafbeserings opgedoen toe hulle vasgemaak is. Hulle was ook ontsettend getraumatiseerd ná die aanval, het Marx gesê.
Gerhard Olivier, noodgevalle-spanleier van die nuutgestigte Plaaslike veiligheidsreaksiespan (RSRT) was saam met dr. Coertze eerste op die toneel.
Die nodige bystand is aan die egpaar gebied, waarna die polisie en lede van die Heritage Protection Group (HPG) opgedaag het.
Dit blyk dat die rowers die meeste van die gesteelde items voor die motorhuis op die voertuie gelaai het.
Olivier het gesê hierdie omgewing het dringend ’n buurtwag nodig. “Almal sal vir tyd en wyl paraat wees in daardie omgewing, maar indien bejaardes steeds op afgeleë plekke wil woon of wil aftree, sal hulle veiligheidsmaatreëls moet hê,” het Olivier gesê.
“Bejaardes moet beslis honde, spreiligte of alarmstelsels aanskaf, want hulle is deesdae maklike teikens.”
Die egpaar het reeds berading ontvang ná die traumatiese ondervinding. Hulle was nog te geskok om met Die Pos oor die voorval te praat.
Marx het gesê die polisie is reeds op die verdagtes se spoor.
- Die polisie is bewus daarvan dat ander eiendomme in die omliggende omgewing ook onlangs onder boewe deurgeloop het. Sake is reeds by die polisiestasie aangemeld, maar die polisie het teen druktyd nie inligting rakende die omstandighede van hierdie voorvalle bekendgemaak nie.Die polisie se forensiese-eenheid was die oggend van die aanval op die Coertze-egpaar glo op pad uit om verdere ondersoek in die omgewing in te stel.Die eienaars van Thandile Country Lodge het in Maart ook deurgeloop. Diewe het op Saterdag 17 Maart by die konferensiekamer en restaurant van die gasteplaas ingebreek en onder meer elektroniese toestelle en beddegoed gesteel.
Magdel Daniel, eienaar, het gesê hulle het sedertdien bykomende veiligheidsmaat-reëls ingestel, maar dat ’n buurtwag in die omgewing ’n behoefte geword het.
- Teen druktyd het die gemeenskaps-polisiëringsforum sektor 1 ’n verklaring uitgereik dat HPG-lede in samewerking met die Bela-Bela- en ander polisie-eenhede ’n verdagte in Winterveld, in die omgewing van Soshanguve, Pretoria, in hegtenis geneem het.Die polisie het die kragopwekker, asook die Coertzes se gesteelde bakkie terug-gevind. Die ondersoek na die ander verdagtes duur voort. Die GPF beweer in die verklaring dat die verdagtes buitelanders is.
For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za



