Die hofsaak van die twee verdagtes wat op Dinsdag 8 Mei in Winterveld, Soshanguve, in verband met die plaasaanval op Hennie en Marie Coertze, ’n bejaarde egpaar van Bela-Bela, in hegtenis geneem is, is weer in die Bela-Bela-landdroshof uitgestel.
Die Coertze-egpaar is dr. Roelof Coertze, mediese praktisyn in die dorp, se bejaarde ouers.
Die polisie en lede van die Heritage Protection Group (HPG) het vir Albert Ndlovu en Mildred Makondo op die dag dat die Coertzes beroof is, onderskeidelik met die Coertzes se bakkie en hul kragopwekker betrap, het ’n vorige verklaring van HPG gelui.
Vier rowers het die egpaar vermoedelik kort ná 01:00 in hul slaapkamer oorval nadat hulle die voordeur met ’n koevoet oopgebreek het. Hulle woonhuis is ’n entjie uit die dorp op die Alma-pad.
Die egpaar, wat in hul sewentigs is, is vasgebind terwyl die rowers die huis geplunder het.
Verskeie waardevolle items, asook die egpaar se twee voertuie, is gesteel.
Die twee verdagtes verskyn in die hof op aanklagte van huisroof met verswarende omstandighede, asook vir die besit van gesteelde goedere.
Hulle sou op Donderdag 17 Mei aansoek om borgtog gedoen het, maar die saak is uitgestel na Donderdag 31 Mei vir die uitstaande verklarings en vir verdere ondersoek.
Hulle is steeds in aanhouding.
For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za



