Twee nuwe verdagtes wat verbind word met die moord op die Peterson-egpaar van Bela-Bela het saam met die ander drie verdagtes op Maandag 21 Mei in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Lucas Masingi, beskuldigde nommer vier, is verlede week in Modimolle aangekeer en Thato Surprise Maringa, beskuldigde nommer vyf, in Hammanskraal.
Die hof is op Maandag 21 Mei vir ’n rukkie ontwrig toe Maringa die hof aanhoudend gevra het waarom hy in hegtenis geneem is vir die moord op Pattie (73) en Cecil (83) Peterson.
’n Geboeide Maringa het vir ’n ligte oproering gesorg toe hy by die hof opgedaag het in ’n swart baadjie met ’n skedel en doodsbeendere-embleem agterop. Hy was vergesel van bewaarders van die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.
Masingi en Maringa verskyn saam met Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana en Tshepo Tebula op klagte van moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die Peterson-egpaar is in September 2017 op hul plaas, TNT Trading, deur ’n groep rowers aangeval. Pattie is in die maag geskiet en Cecil in die gesig. Sy is op die toneel oorlede en hy ses weke ná die aanval in ’n Pretoriase hospitaal.
Vier verdagtes is aanvanklik van die moord verdink.
Mathebula, Nkonyana en Tebula is reeds borgtog geweier. Daar is egter tydens die vorige verskyning in die hof gehoor dat nuwe getuienis rakende Nkonyana tydens die ondersoek aan die lig gekom het en dat die hof hom moontlik die kans sal gun om weer om borgtog aansoek te doen.
Sy regsverteenwoordiger het egter vandeesweek aangedui dat Nkonyana nie meer ’n borgtog-aansoek gaan indien nie.
Maringa het aan die begin van Maandag se hofverrigtinge vir verduidelikings gevra waarom hy saam met die ander verdagtes verskyn en het kort-kort tussenwerpsels gemompel oor die manier hoe hy glo deur kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, hanteer is. Hy het ook talle vrae gehad oor die klagte teen hom.
Landdros Gerrit Olivier het Maringa oor die hofprosedures probeer inlig.
Maringa het later, nadat hy bedaar het, aan die hof verklaar dat hy in 2011 skuldig bevind is aan voertuig-kaping en 12 jaar tronkstraf in Pretoria opgelê is.
Die hangende sake teen hom sluit in die besit van ’n gesteelde voertuig waarvoor hy weer in Julie in Johannesburg moet verskyn, roof waarvoor hy in Junie in die Modimolle-streekhof moet verskyn en nog ’n moord waarvoor hy ook in Junie in Pretoria moet ver-skyn.
Hy was uit op pa-rool toe hy in heg-tenis geneem is in verband met die Peterson-saak.
Hy het verder aan-gedui dat hy sy eie verdediging sal behartig en nie om borgtog sal aansoek doen nie.
Maringa, Masingi en Mathebula het aan die hof gesê dat hulle mekaar nie ken nie. Die groep se saak is uitgestel na Donderdag 5 Julie vir verdere instruk-sies van die direkteur van openbare vervolging en sodat nuwe getuienis rakende Nkonyana aangehoor kan word.
Die verdagtes is steeds in aanhouding.
For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za



