Local sportSport

Klubrugby sorg vir opwinding

Die Nylstroom-rugbyklub van Modimolle en die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela hou hul dorpe se name die afgelope tyd hoog terwyl die Waterbergliga stoom opbou.

Die Kwaggas het op Vrydag 25 Mei teen die Loskop-rugbyklub in Groblersdal uitgedraf.

Chris Goosen, afrigter, het gesê die Kwaggas was teen halftyd reeds met 10-5 voor. Loskop het in die tweede helfte vars reserwes op die veld geplaas, wat die wedstryd vinnig in die guns van Loskop laat draai het. Die Kwaggaspan was ongelukkig nie daartoe in staat om meer reserwes op te stuur nie, wat daartoe gelei het dat Loskop met 34-17 gewen het, het Goosen gesê.

Die Nylstroom-rugbyklub het ook ’n harde wedstryd gehad toe hulle dieselfde dag teen die Thabazimbi-rugbyklub uitgedraf het.

Jannie Venter, klubpresident, het gesê die beserings op die veld het effens aan die Nylstroom-spelers se hakke gebyt. Nylstroom was teen halftyd met 10-9 voor, maar Thabazimbi het die oorhand gekry en Nylstroom met 33-10 gewen.

Die Kwaggas het ook die afgelope tyd teen die Naboom-rugbyklub uitgedraf en met 31-6 verloor.

Nylstroom het voor hul nederlaag teen Thabazimbi egter breed geglimlag nadat hulle die Mogol-rugbyklub met 15-14 gewen het.

Philip Snyman, Nylstroom-speler, is tydens dié sege as speler van die wedstryd aangewys.

Die Kwaggas draf op Vrydag 22 Junie teen die Vaalwater-klub in Vaalwater uit.

Die Nylstroom-span speel op Vrydag 8 Junie teen die Naboom-klub in Mookgophong.

Goosen het gesê nuwe spelers is altyd welkom om by die klub aan te sluit. Die Kwaggas oefen elke Dinsdag van 18:00 en 21:00 op Hoërskool Warmbad se veld.

Vir navrae bel vir Goosen by tel. 079 887 4808.

Die Nylstroom-klub beplan ook om ná hul wedstryd teen Vaalwater op Saterdag 9 Junie ’n potjiekoskompetisie in Modimolle aan te bied om geld vir die klub in te samel.

Belangstellendes is welkom om dié klubgeleentheid by te woon, het Venter gesê.

Related Articles

Back to top button