Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die polisie in Modimolle, was die polisie besig met ’n klopjag in die dorp toe hulle inligting ontvang het dat daar by ’n huis in Jeppestraat ingebreek word.
Sers. Esti Ward en AO Ockert du Plessis het deur die bure se erf gegaan en oor die muur geklim. Die onbewoonde huis was vol rommel.
Hulle het ná ’n soektog deur die huis ’n 24-jarige man gevind waar hy onder goed weggekruip het. Hy sal binnekort in die hof verskyn.
Die ander inbreker het hulle ontglip.
* Die saak teen Stephan Hepburn, wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar ’n man in ’n mielieland doodgeskiet het, is weer die afgelope week in die hof in Modimolle uitgestel.
Hepburn het op Maandag 28 Mei vlugtig in die hof in Modimolle verskyn. Hy het vroeër aan die hof gesê dat hy verlede jaar op Saterdagaand 11 Februarie bosvarke op ’n plaas in die Tuinplaas-omgewing gejag het en ná ’n beweging in die mielieland, wat hy gedink het ’n bosvark is, geskiet het.
Hy het die 23-jarige Jan Railo noodlottig getref. Hy het getuig dat hy nie kon voorsien dat ’n mens daardie tyd van die nag in die land sou wees nie.
Hepburn se regspan het vroeër vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) gerig dat die klag van moord teen hom heroorweeg moet word. Die DOV het egter nog nie tot ’n besluit gekom nie en die saak is uitgestel tot Donderdag 28 Junie.



