Dit is ’n stinkstorie in Modimolle
Stinkende rioolwater wat vir ’n week lank regdeur hul groentetuin, kinders se speelplek en onderdeur hul wasgoedlyn vloei, het vir Frans en Anna Mabunda die afgelope week teen die mure uitgedryf.
Die water het vir dae lank in ’n stewige stroom vanuit ’n drein op die hoek van hul erf in Limpopostraat in Modimolle gevloei, deur hul erf tot dit in die braksloot agter hul huis.
“Ons het dit dieselfde dag dat dit gebeur het, aangemeld. Iemand van die munisipaliteit het kom kyk, maar is gou weer weg en niks het verder gebeur nie,” het Anna gesê. Riool wat uit die drein stroom, gebeur só gereeld dat Frans al ’n sementvoor aangelê het om te keer dat dit teen hul huis vloei.
“Dit riool stink baie erg en ons hou heeldag al die deure en vensters toe,” het sy gesê.
Volgens Thabang Selemela, afdelingshoof van waterdienste in Modimolle, het sy span een van die rioolpype in die omgewing met ’n heelwat groter pyp vervang wat die probleem behoort te verlig. Inwoners in Limpopostraat het egter steeds gekla dat riool in hul erwe vloei.

Johan Prinsloo, VF Plus-raadslid, glo die probleem is te wyte aan die hoë digtheid van huise wat die afgelope paar jaar in dié omgewing gebou is. “Die groter dakoppervlak en geplaveide erwe beteken dat die water nêrens het om heen te vloei nie. Dit beland alles in die rioolnetwerk pleks daarvan om in die grond te syfer. Daarom gebeur dit as dit reën dat die rioolnetwerk nie opgewasse is om al die water te hanteer nie.”
Tydens ’n besoek aan die nabygeleë rioolwerke was die skroef wat die riool in die stelsel moes inpomp buite werking. Inbrekers het ook toegeslaan en rekenaars gesteel en van die elektriese drade geknip en gesteel. Volgens personeel is slegs een wag snags aan diens.
Marlene van Staden, burgemeester, het inwoners omverskoning gevra vir die rioolgemors in hul erwe. “Ons hoop dat die groter pyplyn en die vervanging van die asbespyplyn die probleem sal verlig. Die rioolwerke het ook op Vrydag 18 Mei 48 uur lank stilgestaan omdat ons die skroewe uitgehaal en skoongemaak het sodat dit meer doeltreffend werk,” het sy gesê.



