Die drie leeus, waarvan een ’n wit leeu was, en ’n skaars goue tier van die Jugomaro Predator Park buite Vaalwater is op Vrydag 25 Mei vergiftig toe hulle vermoedelik vleis wat met die gifstof Temik (ook bekend as Two-step) besmet is, geëet het. Die park word deur Justin, Goosey, Rosa en Maxine Fernandes besit en bestuur. “Hulle is ons kinders,” het Justin gesê.

Die gesin is die afgelope drie jaar deur baie trauma nadat hulle hul plaas in Groblersdal verloor het. Hulle het vir twee en ’n half jaar by ’n weldoener in Krugersdorp in ’n tent en karavaan gewoon in ’n poging om hul diere te bly voer en behou, het hulle aan Die Pos gesê.
Justin het die afgelope jaar hokke op grond wat hulle buite Vaalwater gekoop het, begin bou en die leeus, tiere en wildekatte is op Saterdag 5 Mei na hul nuwe tuiste geskuif.
Hy het aan Die Pos gesê sy ma, Rosa, het hom Vrydagoggend om 02:00 wakker gemaak en gesê dat die wolf tekere gaan. Hulle het die 100 m na die hokke gestap en Elvis, een van die leeus, by die eerste hok in uiterste pyn aangetref.
Van die diere het getjank en aan die drade vasgebyt van pyn. “Ons het mond-tot-mond-asemhaling toegepas en aanhoudend die een veearts na die ander probeer kontak. Dr. Marius du Toit van Bela-Bela het uitgekom en was 20 minute voor die laaste leeu dood is, hier. Die medikasie was ongelukkig te laat.”
Kai, die goue tier wat dood is, was een van die laaste 30 Golden Tabby Tigers, ’n uiters skaars spesie. Daar is nou net 29 in die wêreld oor, het Justin gesê. Die ander twee leeus wat vergiftig is, Hercules en Taariq, was bruin leeus.
Justin glo dat Kai net op die verkeerde plek was aangesien die verdagtes die tierhokke vermy het en die vleis net in die leeuhokke was.
Ons harte is stukkend oor ons “kinders”, het die familie gesê.
Maxine, wat in Dubai werk, het gesê sy het nooit getrou nie en stuur haar geld huis toe vir hulle “kinders”. “Ek was so opgewonde om vir twee weke huis toe te kom.”
Rosa het vertel leeueienaars lei geweldige verliese weens tradisionele geneeskunde. Volgens haar het veral die leeus se tande en naels waarmee hulle hul prooi doodmaak, groot waarde. Die verdagtes het nie die katte gestroop nie.
AO Petrus Lefoka van die polisie in Vaalwater het by navraag gesê die vleis wat vir die leeus gevoer is, het positief getoets vir Temik. Hy het verder gesê daar is vroeër beweer dat leeus in die township rondloop, maar met hul onder-soek het hulle bevind dat dit honde en nie leeus was nie. Die plaas grens aan die township. Lefoka het gesê dat leeus se gebrul so ver as 8 km deur die lug trek, maar dat dit terselfdertyd baie naby klink.
Die Endangered Species Unit, tesame met spoorsnyers van die Heritage Protection Group (HPG) en Welgevonden Anti Poaching het ná die voorval spore wat deur ’n stewel en kous gemaak is, asook ’n kaalvoetspoor tot in die township gevolg.
“Vandaar af het die verdagtes vermoedelik met ’n voertuig verder gery,” het Lefoka gesê. Niemand is in verband met die saak in hegtenis geneem nie, het hy gesê.
Die familie bied ’n beloning van R50 000 aan vir leidrade wat tot die suksesvolle inhegtenisname van die booswigte lei.
Lefoka moedig mense met inligting aan om na vore te kom en het daarop gewys dat hulle anoniem kan bly. Mense met inligting kan tel. 10111 of tel. (014) 755 9704 skakel.



