Vrou van Mookgophong sterf ná bysteek
Die skielike dood van Leoni Botha (48) van Mookgophong nadat ’n by haar gesteek het, was vir haar verloofde, Jacques Smit, familie en vriende ’n reuseskok en baie traumaties.
Volgens Smit was hy en Botha op Dinsdag 22 Mei dorp toe. Hulle het die middag teruggekeer na Mount Amanzi buite die dorp waar hul albei werk. Botha het ongeveer 1 km van die plaas ’n slukkie koeldrank uit ’n blikkie geneem en die koeldrank dadelik uitgespoeg nadat ’n by, wat in die blikkie was, haar in die binnekant van haar onderlip gesteek het.
“Ek het dadelik van die pad getrek en die angel met ’n tandestokkie verwyder. Ek het haar gevra of sy allergies is vir ’n bysteek en sy het geantwoord dat sy is. Dit was die eerste keer dat sy dit vir my gesê het,” het Smit gesê.
Botha het nog die hek oopgemaak en toe hulle by die huis kom, wat ongeveer 800 m van die hek af is, het sy vir Smit vir twee antihistamientablette (Allergex) gevra. Sy het volgens Smit binne tien minute nadat sy dit gedrink het, stuiptrekkings begin kry. Hy het dadelik vir Linda Maritz, die plaaseienaar, gebel wat op daardie stadium by ’n dokter in Mookgophong was vir ’n konsultasie.
Hulle het hom versoek om haar dadelik in te bring. Die plaas is ongeveer 25 km buite die dorp en hy het haar na die spreekkamers gehaas. Met hul aankoms is sy egter dood verklaar. Die by het haar ongeveer 13:35 gesteek en sy is teen 14:10 dood verklaar, het hy gesê. “Die ergste is wanneer jy nie weet wat om te doen nie,” het Smit gesê terwyl hy die heeltyd hul baba miniatuur worshond vashou.
Volgens Smit het die nadoodse ondersoek aangedui dat sy dood is aan ’n skoktoe-stand, weens die gif van die bysteek.
’n Roudiens is op Maandag 28 Mei om 11:00 by die lapa van die kamp op Mount Amanzi gehou. Die diens is deur ds. Jan Claassen van die Hervormde Kerk in Mookgophong gelei. Botha word oorleef deur haar ouers, twee seuns, dogter en twee kleinkinders.
Sy is oorspronklik van Bethlehem in die Vrystaat. Sy en Smit het sedert Januarie 2017 by Mount Amanzi gewerk. Hy is die algemene bestuurder en sy was die kos- en drankbestuurder en het ook die huishouding behartig.
Smit het in ’n roerende boodskap op Botha se Facebook-blad geskryf: “My kop druis vanaand. Ek probeer sin maak van die dag en sy verloop; duisend dinge wat anders kon wees; dinge wat ek kon verander as ek kon weet. Maar God se plan en doel is eerste en ek sal daarby moet berus.”



