Karel Niewenhuis, Vryheidsfront Plus: adjunkprovinsiale leier, skryf:
Dit is ’n vereenvoudiging om politieke gebeure in isolasie te beskou.
Grondonteiening sonder vergoeding is tans die grootste kwessie in die politieke arena. Die vraag word herhaaldelik gevra: Van wie word grond weggeneem en vir wie word dit gegee? Elke regdenkende Suid-Afrikaner vertrou dat die antwoord ons nie in die nabye toekoms onkant sal vang nie. Maar in geheel is die grondkwessie “wollerig” met meer vrae as antwoorde.
Politieke kommentators ontleed elke nuanse van gesprekke met die regering en deelname word aangemoedig. Intussen leef ons in blinde geloof dat rasionele, pragmatiese denke sal seëvier.
Aansluitend by die bostaande het die misdaadsyfer die woord “onaanvaarbaar” ’n geykte woord gemaak. Uitsprake teen plaasmoorde word dikwels begroet met kommentaar dat afkeer spruit uit die feit dat mense van jou eie velkleur geraak word; dus word plaasmoorde aan gewone misdaad gelyk gestel. Volksuitwissing of genoside is ’n woord wat al hoe meer in besprekings opduik en word gedefinieer as die stelselmatige uitroeiing van ’n volksgroep.
Statistieke dui daarop dat daar vanaf 2012 tot 2017/2018 altesame 3 059 plaasaanvalle was waarin 338 mense vermoor is. Dié moordsyfer kan met geen ander bevolkingsgroep vergelyk word nie. ’n Kenmerk van volksuitwissing is dat dit ’n verskynsel is wat terugskouend skokgolwe deur die wêreld stuur. Indien dit waar is van die blanke bevolking in Suid-Afrika, kan dit nog gekeer word. Ek besef dat ek gevaar loop om van oordrywing beskuldig te word indien ek die vraag stel of volksuitwissing met plaasmoorde verband hou.
Die neiging dat plaasaanvalle toeneem nadat radikale leiers rassistiese, opruiende uitsprake maak. Die regerende party se aanvaarding van laasgenoemde kan as goedkeuring beskou word sonder om verantwoordelikheid vir die gevolge daarvan te aanvaar. Dieselfde geld vir grondonteiening sonder vergoeding. Wanneer ’n los kanon in die parlement toestemming verleen vir onwettige grondbesetting, het ons geen remedie meer vir wetteloosheid nie.
Die geskiedenis sal die verband tussen plaasmoorde, grondonteiening sonder ver-goeding en rassisme uitspel. Om agterna vuiste te bal, sal geen bydrae maak nie. Laat ons nou hande vat om van die land ’n beter plek te maak.



