Oudkolonel was ’n ware heer
Johan Hurter (66) van Bela-Bela se familie het op Vrydag 1 Junie afskeid geneem van hom nadat hy in die Phodi-kliniek (voorheen die St. Vincent’s-hospitaal) aan Parkinsonssiekte oorlede is.
Volgens die familie het hy vir lank met die siekte geleef.
Hurter is in Port Elizabeth gebore en het aan die Hoërskool Cillié gematrikuleer.
Hy het ná skool sy BCom-graad in rekeningkunde by die Militêre Akademie deur die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna hy vir diensplig in die weermag aangemeld het, het die familie aan Die Pos gesê.
Ná sy diensplig het hy vir die destydse spoorweë gewerk en homself terug in die weermag bevind toe hy by die Suid-Afrikaanse weermaggimnasium in Heidelberg aangesluit het.
Hurter is later in Pretoria tot die rang van kolonel bevorder voordat hy vir tien jaar vir die maatskappy Deloitte as projekbestuurder in Pretoria gewerk het.
Volgens sy familie het hy in hierdie tyd siek geword.
Hy het in 1999 ’n huis in die Renaissance-aftreeoord in Bela-Bela gekoop.
Hy en sy vrou, Isabel, is in 1996 getroud en het vir 21 jaar ’n gelukkige huwelik geniet.
Volgens die familie was hy baie lief vir avontuur en daar was min staproetes in die land wat hy nie aangedurf het nie.
Hy was op ’n stadium onder meer voorsitter van Renaissance, voor-sitter van die Warmbad stap- en natuurklub, tesourier van die destydse Lionsklub op die dorp en ouderling in sy kerk.
Die familie het gesê hulle sal veral sy “renosterhouding” onthou aangesien hy altyd gesê het “sodra hulle met iets begin, moet hulle dit voltooi”.
Hulle dink met deernis aan sy humorsin, intelligensie, puik etiket, dissipline, raad en dat hy altyd liefdevol teenoor ander was.
Hy was veral bekend as ’n ware heer, het die familie gesê.
Die familie wil hul dank uitspreek teenoor elke persoon wat hulle en vir Hurter tot met sy dood ondersteun het.
Spesiale dank gaan aan Hester Botes, sy skoonsuster.
Sy roudiens vind op Donderdag 7 Junie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente in die dorp plaas.
Hy laat sy vrou Isabel, en hul kin-ders, Anzelle Cloete en haar man Morné, Johan Hurter jnr., Elsie Bothma en Hester van Niekerk agter. Hurter was die gelukkige oupa van sewe kleinkinders.



