CrimeNews

Gemeenskap en polisie vat hande

Die Vaalwater-polisie het sy kringvergadering op Donderdag 28 Junie in Laerskool Vaalwater se saal aangebied en die gemeenskap genooi om hul griewe en pluimpies te deel.

Kapt. Jerry Phago, bevelvoerder van die Modimolle-voertuigdiefstaleenheid, het sy hande vol gehad om regverdige spreekbeurte aan almal te gee. Gen.maj. Jan Scheepers, adjunkkommissaris van die polisie in Limpopo, kon ongelukkig nie die vergadering bywoon nie en brig. Annelie Steyn, kringbevelvoerder van Modimolle, het vir hom ingestaan.

Die Modimolle-polisiekring bestaan uit die Vaalwater-, Rankin’s Pass-, Modimolle-, Mookgophong-, Roedtan- en Tuinplaas-polisiestasies. Elke stasie stuur een keer per maand sy voorsitter en sekretaris na dié vergadering. Patrick Tabogo, voorsitter, en Christo Venter, sekretaris, verteenwoordig Vaalwater.

Phago het die polisie-offisiere teenwoordig een vir een laat opstaan en aan die gemeenskap voorgestel. Hy het ook verduidelik watter offisier die beste keuse vir verskillende probleme is. Steyn het die gemeenskap aangemoedig om hul bekommernisse te bespreek.

Phago het die geleentheid om van die gemeenskap se kant af die gesprek te open aan Lucy Moruwe, ANC-raadslid in Vaal-water, gebied. Sy was egter baie ontsteld omdat die vergadering nie op die hoogste vlak verteenwoordig was nie. Sy was ook omgekrap omdat die gemeenskapsaal nie vir die vergadering gebruik is nie. Sy het herhaaldelik daarop gewys dat sy terugvoer verwag en toe opeens uit die vergadering gestap.

Van die gemeenskapslede het dit duidelik gemaak dat Moruwe nie die hele gehoor verteenwoordig nie en die polisie en gemeenskap kon dus die gesprek verder voortsit.

Manie van der Merwe, ’n boer van die omgewing, het sy dank uitgespreek vir die flinke optrede van die gemeenskap en die polisie ná die aanval op sy plaas op Vrydag 1 Junie. Die goeie gesindheid van die polisie in die algemeen is deur ’n paar gemeenskapslede beaam.

Gladys Mojela, ’n inwoner, het gesê sy is moedeloos met die omstandighede in die township, asook met wat besig is om met die kinders te gebeur. Mojela het aangrypend ’n paar voorvalle van onder meer dwelmgebruik onder die jeug gedeel. Sy verwag meer en beter reaksie van die polisie, het sy gesê.

Steyn het Mojela verseker dat die sake wat haar na aan die hart lê, onder die loep geneem sal word, maar dat hul hande afgekap is as die dag en tyd van die aanmelding van die saak, asook die polisie-offisier aan diens, se naam nie verskaf kan word nie — wat telkemale die geval is.

AO Petrus Lefoka, bevelvoerder in Vaalwater, het ná die vergadering verduidelik dat daar onderskei moet word tussen die aanmelding van sake wat in ’n voorvalboek aangeteken word, en ’n klag waar ’n geskrewe verklaring gepaard gaan met ’n saaknommer.

Jessica Babich, sekretaresse van die Save the Waterberg Rhino Foundation, het op haar beurt met deernis verduidelik hoeveel geleenthede en hoop daar vir die Vaalwater-gemeenskap is.

Vaalwater lê, volgens Babich, in die hartjie van die biosfeer wat toerisme met bewaring verbind. Sy het die gemeenskap aangemoedig om betrokke te raak om misdaad te beveg en die polisie te ondersteun aangesien die aanvraag na renosterhorings op die swartmark stropers lok wat weer groot gevare meebring.

Rusverstoring is ook op die vergadering bespreek. Daar is voorgestel dat 75 desibel ’n toelaatbare maksimum volume is.

Die meeste teenwoordig het die polisie se betrokkenheid by die gemeenskap en die veranderings wat reeds plaasgevind het, in ’n positiewe lig gesien. Daar word verder gehoop dat die goeie samewerking tussen die gemeenskap en die polisie tot misdaadvoorkoming in Vaalwater sal lei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button