CrimeNews

Honde opgelei om spoor te sny

“Om jou hond te leer hoe om aan te val, is veral waardevol vir mense wat ver buite dorpe woon se veiligheid.”

Met die aanhoudende misdaad is grondeienaars heeltyd besig om hul veiligheid op te skerp.

Daarom het ’n groep honde-eienaars op Saterdag 6 Julie op die Verloren-landgoed tussen Bela-Bela en Modimolle bymekaargekom sodat kenners hul honde kon oplei. Susan Spencer en Julie Prinsloo van die Cornfields Olderhill Kennels in Rust de Winter, het die honde opgelei om spoorsnywerk te doen en om beter kommunikasie tussen die dier en sy eienaar te bewerkstellig.

 

Honde-eienaars het op Saterdag 7 Julie tussen Bela-Bela en Modimolle byeengekom om hul honde vir spoorsny- en vir veiligheidsdoeleindes op te lei. Hier is van die mense met hul honde tydens die opleiding.

 

Volgens Spencer het hulle die afgelope 30 jaar meer as 6 000 honde opgelei om verskeie take te verrig.

Twee van hul suksesstories was dié van Jimmy en Yodel, twee jakkalshonde, wat renosterstropers en brandstofdiewe suksesvol uitgeken het, het sy gesê. Ander suksesvol opgeleide snuffel-honde en honde wat booswigte kan takel, het ook by hulle opleiding ondergaan.

Die polisie het ook al ’n van dié opgeleide honde gebruik, het Spencer gesê.

“Om jou hond te leer hoe om aan te val, is veral waardevol vir mense wat ver buite dorpe woon se veiligheid,” het Spencer gesê. “As die kommunikasie tussen die eienaar en die hond goed is, kan mense hul honde vir talle doeleindes aanwend.”

Eienaars en hul honde is tydens die opleidingsessie geleer hoe om spore, items en selfs mense in die veld op te spoor. Spencer het gesê dit is beter dat die hond self die leiding moet neem omdat hulle reeds die reuksintuie het om iets te kan uitsnuffel. Om die hond heeltyd bevele te gee, kan hul aandag aftrek, het sy gesê.

Deur die hond leiding te laat neem en hom of haar te beloon wanneer hulle iets suksesvol gevind het, bou die hond se selfvertroue op en dit veroorsaak dat hulle nie bang raak nie, het Spencer gesê.

“Enige hond kan spoorsny of alarm maak. Kleiner honde kan egter korter afstande doen teenoor groter honde met lang neuse wat oor langer afstande kan beweeg.”

Die honde is deur die loop van die oggend geleer hoe om aan te val.

Dit was indrukwekkend om te beleef hoe die meeste van die honde instinktief en baie vinnig by die opleiding aangepas en presies geweet het waarmee hulle besig was. Spencer het gesê ’n hond kan binne ’n kort tyd opgelei word vir talle doeleindes.

“Nie baie mense besef dat honde aanval — en dit is hoe ons honde leer om aan te val — wanneer iemand, en veral kinders, hulle terg nie,” het Spencer gesê. “Sodra dit bekend is dat ’n inwoner ’n opgeleide hond het, is misdadigers veral geneig om sulke eiendomme te vermy.”

Vleis met gif wat boosdoeners oor heinings gooi, het al talle honde se lewens geëis. Volgens Spencer kan eienaars hul honde leer om nie enige vleis van die grond af te eet nie.

“Mense moet hul honde verkieslik binne hul huise hou vir hul eie veiligheid,” het sy gesê. “Ons hoop om meer mense te sien wat ’n sterker band met hul honde wil bou en om ook pret te hê deur hul honde op te lei tot voordeel van hul eie veiligheid.”

Die groep ontmoet Saterdagoggende op Verloren.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button