’n Hofbevel in die guns van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit kan dienslewering in dié munisipaliteit ’n groot hupstoot gee.
Die hooggeregshof in Polokwane het op Dinsdag 17 Julie beslis dat die balju, Ben Rakgatho, verskeie munisipale voertuie waarop daar beslag gelê is binne tien dae moet terugbesorg, andersins kan hy tot 30 dae agter tralies deurbring. Die balju se kantoor moet ook die regskoste van die aansoek dra. Een van die voertuie is die dorp se vullisverwyderingstrok. Die tien dae verstryk op Vrydag 27 Julie.
Gideon Ferreira van die plaaslike prokureursfirma Geyser Ferreira het die dringende aansoek hanteer. Die hof het bevind dat die eiendom waarop beslag gelê is, nodig is sodat die munisipaliteit sy grondwetlike plig om dienste aan inwoners te lewer, kan nakom. Die hof het bevind dat sou die voertuie tydens ’n veiling verkoop word, die munisipaliteit weens sy benarde finansiële toestand dit moeilik sou vind om dit weer te vervang.
Daar is op verskeie voertuie beslag gelê nadat ’n hofbevel in dieselfde hof op Vrydag 25 Mei teen die munisipaliteit en in die guns van die prokureursfirma Mphoke P.K. Magane Ingelyf besluit het.
Die hofbevel het die balju toestemming gegee om beslag te lê op eiendom ter waarde van meer as R1,8 miljoen, wat die munisipaliteit aan die firma geskuld het.
Volgens Ferreira word Mphoke P.K. Magane se rekening hewig deur die munisipaliteit betwis en is die kwessie by die prokureursorde aangemeld. Die hofbevel teen die munisipaliteit is volgens hom ook op ’n klerk in die rekordafdeling bedien eerder as die op die munisipale bestuurder. “Ons glo die hofbevel is op bedenklike wyse verkry,” het hy gesê. “Die balju se rekening aan die munisipaliteit vir die verwydering en skut van die se-we voertuie vir ses weke beloop R1,5 miljoen. Dit is ondanks voorgeskrewe skale waarby daar gehou moet word,” het Ferreira gesê.
Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het die tekort aan voertuie dienslewering belemmer. “Dit het chaos veroorsaak en ons kon nie betyds dienste lewer nie, soos vullisverwydering. Van die personeel het gemeld dat hul gemiddelde reaksietyd op water- en rioolklagtes wat drie en ’n half uur was, sedert die beslaglegging tot 18 uur vermeerder het omdat hulle nie voertuie tot hul beskikking gehad het nie. Ons is baie verlig dat die probleem binnekort opgelos sal wees,” het sy gesê.
Rakghato het bevestig dat sy kantoor die voertuie sal terugbesorg. Hy wou nie verder kommentaar lewer nie.



