Local sportSport

Plaaslike bokser se droom oor uitklophou word waar

“Hy het sy kans geneem en hom met ’n gesighou (uppercut) grond toe gevat.”

Die jong bokser Karabo Mokupi van Phagameng, Modimolle, het sy droom om ’n boksgeveg met ’n uitklophou te beëindig, in sy tweede professionele geveg bewaarheid.

Mokupi (20) het op Saterdag 28 Julie teen Johannes Lesiba in die ligswaargewigafdeling te staan gekom tydens die Sweet Science for Ghetto Greatness by die Kagiso Memorial & Recreation Centre. Hy het sy kans in die derde ronde gesien en geswaai met alles wat hy het.

“Lesiba is ’n goed gekondisioneerde bokser. Mokupi het die eerste ronde van die geveg oorheers en mooi by die spelplan gehou,” het Peet Oberholzer, wat hom afrig, gesê. “Hy het die tweede ronde goed ingegaan met kort, vinnige houe. Ek het ná die ronde vir hom gesê hy moet uitkyk want Lesiba se ken bly oop. Hy het sy kans geneem en hom met ’n gesighou (uppercut) grond toe gevat.”

Mokupi het ná dié goeie vertoning ook ’n les gekry in onderhoude met radiostasies en voor televisiekameras.

“Dié sukses maak deure vir ons oop. Mokupi se selfvertroue het ’n groot hupstoot gekry en hy kan nou die leer begin klim na die Suid-Afrikaanse titel. Dit is ’n harde pad wat voorlê,” het Oberholzer gesê.

Wayne Lottering (20) wat saam met Mokupi by Obie’s Boxing and Fitness Academy in Modimolle oefen, het teen Sipho Dladla te staan gekom in die junior middelgewigafdeling. Hy het die geveg verloor.

“Wayne het baie geleer en is reg vir sy volgende afspraak in die bokskryt,” het Oberholzer gesê.

Related Articles

Back to top button