Inwoner vier groot mylpaal
“My pa se groot liefde was altyd visvang. Hy het tot laat in sy lewe nog geoefen. Hy het tot hy 90 jaar oud was nog fiets gery.”
Dit is nie elke dag dat iemand die geleentheid kry om 100 verjaarsdagkersies dood te blaas nie.
Die inwoners van die Waterberg Residentia-tehuis in Modimolle het dié besondere mylpaal op Woensdag 25 Julie saam met Hennie Swart gevier. Lekkernye is bedien en die plaaslike sanger Franna Benadé, asook Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het die verjaardagvieringe bygewoon.
’n Op-en-wakker Swart het die inwoners bedank vir hul vriendskap en ondersteuning. Hy en sy vrou, Koba, het vyf jaar gelede hul intrek in die tehuis geneem. Koba is drie jaar gelede oorlede, het hul dogter Annelie Badenhorst van Modimolle gesê.
Volgens Badenhorst is haar pa in Petrus Steyn gebore en het hy daar grootgeword. Hy het later Germiston toe verhuis waar hy sy vrou ontmoet het. Hy het by die staalvervaardiger Haggie Rand gewerk en ná sy aftrede buite Volksrust geboer. Die egpaar het 25 jaar gelede na Modimolle verhuis.
“My pa se groot liefde was altyd visvang. Hy het tot laat in sy lewe nog geoefen. Hy het tot hy 90 jaar oud was nog fiets gery — dit was voor die dae van al die fietsrykompetisies,” het Badenhorst gesê.
“Hoewel sy sig nie meer so goed is nie, is hy nog selfonderhoudend en doen hy nog baie dinge self,” het sy gesê.
Swart het twee seuns en drie dogters en spog met 18 kleinkinders en bykans 70 agterkleinkinders.



