
Diewe was in Julie bedrywig in Bela-Bela en heelwat voorvalle waar motorbande van die motors af gesteel is, is by die polisie aangemeld.
Motorbanddiefstal het sedert die begin van Julie in Swanepoel- en Roodepoortstraat, die township, asook in die omgewing van Bosveld Diesel op die R101-pad na Modimolle plaasgevind, het die polisie gesê.
Een van die slagoffers was Paul Liddle, skoolhoof van Hoërskool Warmbad.
Die jongste voorval het volgens die polisie op Donderdag 26 Julie by Bosveld Diesel plaasgevind.
Die meeste van die voertuie was ten tyde van die diefstalle binne-in toe erwe.
Die diewe het toegeslaan terwyl die huismense geslaap het, het die polisie gesê.
Die polisie het veral opgemerk dat Toyota Fortuners, Toyota Hilux-bakkies, Isuzu-bakkies, swaarvoertuie en Opel Corsa-bakkies se bande gesteel is.
Verder het diefstal vanuit voertuie by die Shoprite-parkeerarea, by Tuintuiste en in die township plaasgevind. Tupperware en ’n gereedskapskis is vanuit voertuie in die township gesteel.
By Tuintuiste is ’n motor se radio gesteel toe diewe op Donderdag 19 Julie ’n voertuig se ruit oopgebreek het om by die radio uit te kom, het die polisie gesê.
Janes Boshoff, voorsitter van die AfriForum-tak in Bela-Bela, asook lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het in reaksie gesê inwoners moenie hul voertuie snags in die straatlaat staan nie.
“Nie almal het toesluitparkeerplekke nie, maar ons raai mense aan om wel dié uitgawe aan te gaan vir hul eie veiligheid,” het Boshoff gesê. “Ons sal die diewe moet keer, maar ons hande is afgekap. Die diewe is moontlik bewus van die tye wanneer buurtwagpatrollielede in en uit ’n woongebied beweeg, en slaan dan toe sodra die buurtwaglede weg is.”
Boshoff het voorts gesê die gemeenskap moet sonder twyfel beter veiligheidsmaatreëls tref.
Nog niemand is in verband met die diefstalgevalle in hegtenis geneem nie. Die polisie raai inwoners aan om die polisie te kontak as hulle iets verdags sien of inligting oor die voorvalle het.



