Local newsNews

Egpaar sterf op pad na wildtuin

Die brandweer moes na wat verneem word die twee voertuie van mekaar lossny.

Casper (57) en Ronell (56) van Zijl, oud-inwoners van Vaalwater, se dood het die dorp se inwoners sprakeloos gelaat.

Die egpaar is op Sondag 29 Julie op die R526 op pad na die Kruger Nasionale Wildtuin noodlottig beseer in ’n botsing reg van voor.

Volgens sers. Brian Mongwe van die Gravelotte-polisiestasie, het die Toyota Fortuner, waarin die Van Zijls gery het, net ná die brug op die oewer van die Selatirivier agter ’n Opel Corsa gery. Die weer was glo mistig. Die polisie vermoed die bestuurder van die Corsa het beheer oor sy voertuig verloor en in ’n boom vasgery. Dit het moontlik veroorsaak dat die Van Zijls se aandag van die pad getrek is en die egpaar se motor het reg van voor met ’n Ford Ranger-bakkie gebots.

Die brandweer van Hoedspruit moes na wat verneem word die twee voertuie van mekaar lossny. Volgens Mongwe het Casper bestuur. Die egpaar is vermoedelik op slag dood.

Die Van Zijl-egpaar, wat vir jare in Vaalwater gewoon en met wild geboer het, het sowat vyf jaar gelede verhuis en ’n onderneming in Tzaneen begin.

Seun Lamprecht, Ronell se swaer, het aan Die Pos gesê die Van Zijls het ’n teëlfabriek in Tzaneen bedryf, maar het steeds gereeld Vaalwater toe gekom om daar te kuier.

Sophia Coetzee, wat vir 30 jaar die skoolbus in Vaalwater bestuur het, het gesê hulle dood is vir haar ’n groot skok. Sy het die Van Zijls goed geken en baie met hulle te doen gehad in die tyd toe sy hul kinders, Casper en Martella, met die skoolbus vervoer het.

Baie Valies neem swaar afskeid van die Van Zijl-egpaar. Marlene van Staden, burgemeester, het ook haar medelye uitgespreek en gesê dat hulle jarelange familievriende en twee wonderlike mense was.

Helgard Greyling, ’n familievriend, het aan Die Pos gesê “Casper was ’n man van min woorde, maar altyd ’n gentleman en baie wys. Hy het altyd geglimlag al was dinge nie altyd maklik nie. Ronel was jubelend en het ook altyd gelag. Hulle was opreg en eerlik en ons gaan hulle so baie mis.”

Die van Zijl-egpaar laat hul twee kinders Casper en Martella van Zijl agter.

Die begrafnis vind op Vrydag 3 Augustus om 11:00 vanuit die NG Kerk Vaalwater plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button