Amptenare van die lisensiekantoor in Mookgophong sukkel sedert April om hul werk te doen nadat die kantoor en toerusting vroeër vanjaar in ’n brand verwoes is.
Die brand is na bewering gestig om bewysstukke in ’n ondersoek te vernietig.
Die Pos het al verskeie kere oor die kantoor se probleme berig en het nou weer gaan kyk wat die stand van sake is. Arrie Opperman, hoof van die verkeersafdeling, het verduidelik dat die proses om die kantoor weer ten volle funksioneel te kry nie so eenvoudig is nie en dat daar ’n lang proses is voordat alle toetstoestelle weer gebruik kan word.
“Die toerusting, wat alles aan die departement van vervoer behoort, kan nie net deur die publiek vervang of herstel word nie. Ek dink nie almal is bewus daarvan dat die regte stappe gevolg moet word om die kantoor weer werkbaar te maak nie,” het Opperman gesê.
Slegs een van die drie afdelings is tans in gebruik. Net die registrasie-owerheid word gebruik om voertuigregistrasies te doen. Voertuigtoetse kan nie gedoen word nie aangesien die kalibrasiesertifikate verval het. Die afdeling wat rybewystoetse doen, is gesluit weens die hangende korrupsieondersoek. Rybewyse kan ook nog nie hernu word nie, maar tydelike rybewyse vir diegene wie se lisensie verval het, kan uitgereik word. Die rekenaar en skandeerder is nog nie aan die e-NATUS-stelsel gekoppel nie en daarom kan rybe-wyse nie uitgereik word nie, het Opperman gesê.
Volgens Opperman kan oogtoetse ook nie gedoen word nie, want die departement moet eers weer die toetsmasjien aan die stelsel koppel voordat hernuwings gedoen kan word.
Hy verwag egter dat alles “binnekort” gereed sal wees.
Intussen ry ’n voertuig weekliks met aansoeke vir padwaardigheidsertifikate na Polokwane en terug. “Ek versoek inwoners om asseblief geduldig te wees; dit is vir ons ook ’n frustrasie,” het Opperman gesê.



