MunicipalNews

Forensiese oudit moet geldsake bekyk

Die ondersoek is ’n poging om die finansieel ongesonde munisipaliteit weer op die been te kry.

Politieke partye het die blaam vir die platsak beursie van die Mookgophong-munisipaliteit op mekaar geplaas ná die besluit dat ’n forensiese oudit die sondes van die afge-lope paar jaar moet oopkrap.

Die ondersoek is ’n poging om die finansieel ongesonde munisipaliteit weer op die been te kry.

Raadslede het tydens ’n gewone raadsvergadering op Donderdag 2 Augustus eenparing ten gunste van ’n forensiese ondersoek besluit.

Voor die stemming het Jerry Ndou, LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) die dringende assesseringsverslag aan die raad voorgelê. Die verslag het bevestig dat die munisipaliteit in groot geldelike verknorsing is.

Die twee grootste partye in die raad, die ANC en die DA, blameer mekaar vir die geldelike krisis. Die DA bestuur die munisipaliteit sedert Augustus 2016 met die hulp van die EFF en die VF Plus nadat dit vir jare deur die ANC regeer is.

“Die forensiese oudit sal die wanadministrasie deur die vorige ANC-administrasie ontbloot,” het Jacques Smalle, die DA se provinsiale woordvoerder oor CoGHSTA, in ’n mediaverklaring gesê. Volgens hom is die ondersoek lank reeds nodig.

Volgens die party het wanadministrasie deur vorige senior bestuurders daartoe gelei dat ingryping volgens art. 139 van die Grondwet, waaronder die munisipaliteit in Junie deur die provinsie onder administrasie geplaas is, nodig was nadat dit nie sy bykans R400 miljoen se skuldafbetalings kon bybring nie.

As gevolg hiervan is verskeie kontrakte in die gedrang gebring, lui die verklaring.

Dit het glo gelei tot Eskom se herhaalde dreigemente om die elektrisiteitstoevoer na die dorpe in dié munisipaliteit te beperk, die volgehoue verskaffing van water aan Mookgophong se 23 000 inwoners in gedrang gebring, die konstante oorvloei van riool in woongebiede wat verhoed kon word, sowel as ’n oortydrekening van R1,4 miljoen en die uitstel van die opening van die nuwe stortingsterrein in Modimolle.

Volgens Rufus Mahoro, hoofsweep van die ANC en onlangs verkose substreek-sekretaris van die party, verwelkom die ANC die ondersoek met ’n oop hand.

Hy het gesê die munisipaliteit het onder die leiding van die “onheilige DA- en EFF-alliansie” bykans ineengestort. “Dit is net reg dat ’n forensiese oudit diegene wat verkeerd opgetree het, voor stok kry,” het hy gesê.

“Die ANC wil hul veragting van korrupsie, wanadministrasie en die slegte behandeling van die inwoners van die munisipaliteit uitspreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button