Local newsNews

Plaaslys laat boere baie bekommerd

“Ons gaan nie net terugstaan nie. As hulle my plaas wil hê, gaan hulle daarvoor moet betaal. Ek staan dit nie andersins af nie.”

Die boerderygemeenskap was die afgelope week in rep en roer nadat ’n lys van 195 plase wat na bewering in die regering se visier is om onteien te word, bekendgemaak is.
Van die plase val in Die Pos se lesersgebied.

Dié lys, wat deur AfriForum bekendgemaak is nadat dit glo in die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gesirkuleer is, bevat 195 name van plase wat glo geoormerk is vir onteiening. Die bekendmaking daarvan het egter onder skoot gekom deur verskeie instansies. Die minister van die departement, Maite Nkoana-Mashabane, het die bestaan van so ’n lys vandeesweek in die media ontken.

Die plase Doornkop, Koppie Alleen en Wilgeboomsdrift word gelys. Dié plase val sover vasgestel kon word in die Modimolle-Mookgophong-munisipale gebied. Doornkop en Koppie Alleen is in die Alma-omgewing geleë en Wilgeboomsdrift in die Grootfontein-omgewing naby Luiperdskloof.

“Een van die probleme met die lys, is dat dit plaasname noem, maar nie sê watter gedeelte van die plaas nie,” het Barend Pienaar, ’n boer wat betrokke is by die Waterberg-agrisekuriteitspolisiëringsisteem (WASPS), gesê. “Dit kan beteken dat heelwat meer plase as die 195 op die lys geraak kan word.”

Koppie Alleen (359 KR) het, volgens die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se waardasierol, 31 gedeeltes en sluit dele in wat aan Transnet, Telkom, die regering, die Alma-gemeenskapstrust en die koöperasie behoort. Laerskool Alma is ook op een van dié plaas se gedeeltes geleë.

Die plaas Doornkom (357 KR) beslaan 13 gedeeltes. Die plaas Wilgeboomsdrift (380 KR) beslaan vier gedeeltes.

Landwyd mor boere dat mynbou die motivering agter dié lys plase is. Die nieregeringsorganisasie EnvironmentSA het op Maandag 13 Augustus op Twitter gesê verskeie van die plase op die lys het in die afgelope 13 jaar mynbou-aansoeke gehad. Twee van die plase op die veelbesproke lys is glo bokant die Makhado-steenkoolrif in die Limpopo-kom, is vandeesweek berig. Daar is glo ook ses plase buite Belfast wat aan ’n groot steenkoolmyn grens.

Plaaslike boere het ook hul vermoedens hieroor. Kennisgewings van ’n openbare deelname vergadering is onlangs teen plaasheinings opgesit. ’n Vergadering is op Dinsdag 3 Julie in die O.R. Tambo-saal in Modimolle gehou. Die maatskappy Lazo Tech doen aansoek om vir ’n verskeidenheid metale onder andere sink, platinum, rodium en palladium te prospekteer op die plase Elandsbosch (372 KR) en Doornkop (375 KR).

Die Pos het verskeie van die boere in die omgewing gekontak.

Henriëtte Erasmus, wat met tabak boer, het gesê dat hul familie al drie geslagte lank daar boer.

“Ons gaan nie net terugstaan nie. Die boere is baie ontsteld dat plase in hierdie omgewing op die lys is,” het sy gesê. “Die regering het gesê hulle sal onbenutte grond eis — tel grond waarop beeste wei as onbenut? As hier ’n myn oopmaak, sal dit ’n groot effek op almal hê en op die gehalte van die water wat ons oeste kan beïnvloed. Ons is baie bekommerd.”

Van die ander boere wou nie hul name genoem hê nie omdat hulle blootgestel voel nadat hul plaasname bekendgemaak is. Hulle was ook bekommerd dat dié nuus die banke se houding jeens hulle sal verander. In dié gebied word daar meestal met tabak, beeste, waatlemoene en boontjies geboer.

Een van die boere het prontuit gesê: “As hulle my plaas wil hê, gaan hulle daarvoor moet betaal. Ek staan dit nie andersins af nie.” Nog ’n boer het gesê dat hy hom nie aan die ophef gaan steur nie en gaan voortboer soos altyd. “AfriForum het nou gaan krap waar dit nie jeuk nie. Ek glo hier gaan niks van kom nie, want die regering kan dit nie bekostig nie.”

Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA, het boere in ’n mediaverklaring aangemoedig om te weier om hul grond af te staan.

“Die situasie vereis groter samehorigheid oor die beginsel teen onteiening. Al sou net een plaas onteien word en dit word deur die landbou-gemeenskap toegelaat, sal dit slegs die eerste domino wees wat ’n proses tot gevolg gaan hê. Gemeenskappe moet hulself daarom organiseer en by georganiseerde landbou-strukture inskakel sodat ’n deeglike plan van optrede uitgewerk kan word vir ingeval so iets sou voorkom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button