Local newsNews

Entrepreneurs merk strate

Hulle het tot dusver 40 plekke in die dorp geverf.

’n Gesin van Bela-Bela het vir hulself werk geskep deur inwoners se adresse voor hul eiendom op die sypaadjie te verf.

Verskeie inwoners van Bela-Bela het die afgelope ruk gewonder wie dié blink plan bedink het toe duidelik gemerkte sypaadjies oral begin opduik — die munisipaliteit, AfriForum of die plaaslike buurtwag? Toe nie een van hulle nie.

Michael Lategan, sy broer, Renier, en hul ma, Vicky Bergh, wat almal werkloos is, gaan tans van huis tot huis en bied aan om inwoners se adres teen ’n minimale vergoeding op die sypaadjie, hetsy voor die eiendom of op die straathoek, te verf.

Michael het by navraag gesê hulle het tot dusver 40 plekke in die dorp geverf. Die gesin het ook voorheen in Mokopane, Mookgophong en Polokwane dieselfde soort werk gedoen, het hy gesê.

“Werk is skaars en daarom doen ons hierdie vir ’n inkomste. Ons is nie mense wat bedel nie,” het Michael gesê.

Tinus Ras, DA-raadslid in Wyk 1, het gesê hoewel die verfwerk baie netjies is, behoort die verwers tog toestemming by die munisipaliteit te kry.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het gesê sulke verfwerk word op private eiendom toegelaat, maar nie op straathoeke nie aangesien die meeste straathoeke en sypaadjies munisipale eiendom is.

Mosito het gesê hy sal die verwers kontak en uitvind of hulle binne die munisipale reëls sake doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button