Gesin en gemeente rou ná koster sterf
“Hy was ’n mens wat altyd ander mense opgekikker het met sy vrolikheid en was vol grappies. As iemand nood gehad het, sou hy dadelik gaan help.”
’n Gesin van Modimolle se harte is in stukke ná die onverwagse afsterwe van Louis van Tonder.
Die 50-jarige Van Tonder, wat reeds 20 jaar lank in die dorp gewoon het, was die koster by die Nederduits Hervormde Kerk in die dorp.
Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het Van Tonder sy eie lewe in hul motorhuis geneem. Sy vrou, Daleen, het hom met haar tuiskoms gevind.
“’n Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word,” het Findlay gesê.
Ds. Willem Sauer, leraar van die gemeente waar Van Tonder die afgelope drie jaar gewerk het, het gesê hy was baie geliefd onder gemeentelede, veral die ouer garde.
“Hy was ’n mens wat altyd ander mense opgekikker het met sy vrolikheid en was vol grappies. As iemand nood gehad het, sou hy dadelik gaan help. Sy dood was ’n geweldige skok,” het hy gesê.
“Ons is baie geskok oor Louis se afsterwe. Ons sal hom altyd in ons harte dra en nooit vergeet nie. Hy laat ’n groot leemte in ons lewens. Ons berus ons daarby en weet hy is rustig in God se hande,” het sy vrou Daleen gesê.
Van Tonder laat sy vrou, Daleen, en twee seuns, PG en Deon, agter. Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.



