Fopnuus (fake news) is ’n woord wat ’n dekade gelede nog nie deel van die mens se alledaagse woordeskat was nie.
Fopnuus is egter deesdae ’n euwel waarmee intenetgebruikers daagliks in aanraking kom. Dié fopvuur word verder aangeblaas deur die feit dat baie mense “joernalis” op die internet speel, maar ook omdat kitsnuus deesdae onlosmaaklik deel van nuusdekking is. Mediagroepe het klaarblyklik nie meer tyd om twee of selfs drie bronne te raadpleeg of om doodseker te maak oor die feite van ’n saak nie. Die resies om die brekende nuus eerste op die internet te plaas, het ’n meedoënlose stryd geword.
’n Mens kan mediahuise, in hul resies teen tyd, nog vergewe vir die deurglip van foute, maar die verkondiging van blatante leuens is onvergeefbaar. Dit is skokkend hoe maklik dit geword het om die grootste klomp snert as feite op die intenet op te dis. Kompleet met “professionele” foto’s of grafiese voorstellings. Nog meer skokkend is die ywerigheid waarmee sosiale media-gebruikers dié ongegronde stellings glo, deel en saamwerk om fopnuus soos ’n veldbrand te laat versprei.
Aan die ander kant is dit deesdae vir politici, sterre en selfs individue baie maklik om die waarheid as fopnuus af te maak. Die Amerikaanse president Donald Trump het dié kuns vervolmaak en maak geredelik stories waarvan hy nie hou of mee saamstem nie as fop-nuus af.
Die postmoderne mens verkies om te glo dat daar geen absolute waarheid is nie, dat die lewe vloei-baar is en dat vandag se oortui-gings in more se geskiedenisboeke as wensdenkery opgeskryf kan staan. Dit is die ideale teëlaarde vir fopnuus om in te gedy.
Maar die geskiedenis het die mens ook geleer dat helde juis gebore word wanneer hulle stroomop swem teen die algemene opvattings wat nasies, en selfs die hele mensdom, soms soos ’n tsoenami insluk.
En daarom is die soeke na waarheid, in ’n tyd waar fiksie en feite so vermeng geraak het, ’n deug wat juis nagejaag moet word.
Om die kaf van die koring te skei, is ’n uitdaging. Met die verskyning van die opspraakwekkende boek Die seuns van Bird Island, waarin onder meer skokkende bewerings gemaak word oor drie ministers in die voormalige Nasionale Party (NP), is dié uitdaging onlangs op die voorgrond geplaas.
So wat is die waarheid? “In vino veritas. Mag wees, mag wees,” skryf Hennie Aucamp in Pluk die dag. Maar as al die anonieme bronne, die gebrek aan getuies, die afwesigheid van laboratoriummonsters in ag geneem word, dan lê die werklike waarheidstoets in die vraag wat Aucamp so met ’n tong in die kies vra: “…kan dié waarheid op eie bene staan?”



