CrimeNews

Inwoners moet buurtwag help

“Kyk die werklikheid in die oë. Dit is nonsens dat mense dink dat iemand anders, soos die huidige buurtwaglede, die hele dorp veilig moet hou.”

Die Bela-Bela Crime Support-buurtwag (BBCS) het amptelik met die gemeenskappolisiëringsforum subsektor 1 (GPF) en die Plaaslike veiligheidsreaksie-spanbuurtwag (RSRT) in die dorp saamgesmelt.

’n Gemeenskapsvergadering is op Woensdag 22 Augustus by die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) se saal in die dorp gehou om inwoners in te lig oor die misdaadtoe-stand in die dorp.

Die opkoms by die vergadering was ongelukkig nie groot nie en kommer is daaroor uitgespreek.

Huisbrake, inbrake by sakeondernemings, dwelmverwante sake, rooftogte op die N1-snelweg en diefstalle is volgens die polisie aan die toeneem.

Die diefstal van voertuigbande wek sedert Julie al hoe meer kommer.

Kol. Lindie Marx, die Bela-Bela-polisie se stasiebevelvoerder, het gesê weens omstandighede buite haar beheer gaan die polisiestasie gebuk onder ’n tekort aan voertuie, wat polisiewerk beperk. Juis daarom maak die polisie staat op buurtwagte, veiligheidsondernemings en opgeleide reaksielede om hulle by te staan.

Harold Spencer, stelselbeheerder van RSRT, het verduidelik dat die polisie voor 1995 as ’n “mag” geklassifiseer is, maar hulle het ná 1995 ’n “diensverskaffer” geword.

“Daar is van proaktiewe misdaad-voorkoming na reaktiewe optrede beweeg, maar niemand kan só funksioneer nie,” het Spencer gesê. “Ons as inwoners moet nou ons deel doen, want ons het ’n reg om ons geliefdes en eiendom te beskerm.”

Daar is tans 14 geregistreerde buurtwagte in en om Bela-Bela.

Danksy RSRT-lede — veral dié van die Roodekuil, Turfbult en Langlaagte-buurtwag (RTL) wat opleiding ontvang het, het misdaad sedert RTL se ontstaan gedaal. ’n Klein aktiewe groep is egter nie genoeg nie. Daar moet veral meer jong mense betrek word, is tydens die vergadering gesê.

“Kyk die werklikheid in die oë. Dit is nonsens dat mense dink dat iemand anders, soos die huidige buurtwaglede, die hele dorp veilig moet hou,” het Marx gesê.
“Die sindikaatlede is nie dom nie.”

Sy het gesê omtrent 70% van alle misdaad wat in die omgewing gepleeg word, is dwelm- of drankverwant.

Hoewel die meeste voorvalle in die township voorkom, het misdaad tog na die dorp versprei.

“Ek het al gesien hoe die gemeenskap kan saamstaan wanneer die ergste gebeur. Mense moet daadwerklik betrokke raak en elke plek in en om hulle wat ’n sagte teiken is, identifiseer,” het Marx gesê.

Gerhard Olivier, spanleier van RSRT, het gesê indien meer inwoners nie by buurtwagte betrokke raak nie, sal misdaad vererger.

Inwoners word aangemoedig om as buurtwaglede te registreer en die oë en ore van die omgewing te wees. Deon Beukes, voorsitter van die GPF, het gesê nielede sal nie geïgnoreer word sou daar ’n noodgeval wees nie, maar dat dit in hulle guns sal tel wanneer hulle wel buurtwaglede is.

Inwoners kan vir Natasja Kemp, sekretaresse van die GPF, bel by tel. 078 777 7176 om op die noodgroepe geplaas te word en om te registreer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button