CrimeNews

Bestuurder tydens rooftog by hoenderplaas gemartel

Die mans het die bestuurder met ’n warm strykyster op sy gesig en arm gebrand toe hulle op meer geld aangedring het.

’n Rooftog het op Dinsdag 21 Augustus by ’n hoenderboerdery op ’n hoewe in Klippan, Lehau, op die Springbokvlakte in die Radium-omgewing plaasgevind waartydens ’n bestuurder deur ’n groep rowers aangerand en met ’n strykyster gebrand is.

Die bestuurder, wie se naam nie deur die Bela-Bela-polisie bekendgemaak is nie, het teen ongeveer 18:00 ’n Fiat Uno met vyf insittendes by die hoewe gesien aankom.
Die mans, wat Tswanasprekend was, het aan die bestuurder gesê hulle wil 100 hoenders koop, het die polisie gesê.

Nadat die bestuurder die hoenderhokke aan een van die insittendes gewys het, het hy saam na die bestuurder se woning gestap. Daar het die man ’n handwapen op die bestuurder gerig en op kontant aangedring.

Die bestuurder is met elektriese kabels vasgebind en herhaaldelik geskop. Die man het toe R1 000 kontant van die bestuurder geneem, het die polisie gesê.

Die res van die mans het opgedaag en die bestuurder na die eienaar van die onderneming se huis geneem. Die eienaar was nie tydens die rooftog tuis nie.

Die mans het die bestuurder met ’n warm strykyster op sy gesig en arm gebrand toe hulle op meer geld aangedring het, het die polisie gesê. Die bestuurder het geen ander keuse gehad as om die mans die presiese plek in die huis te wys waar daar nog kontant gevind kon word nie.

Die verdagtes het met ’n verdere R12 000, twee selfone en ’n skootrekenaar verdwyn.

’n Ander werker het op die bestuurder in die huis afgekom en die polisie ontbied.

Die Bela-Bela-polisie ondersoek ’n saak van roof. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

  • ’n Beroep word op die gemeenskap gedoen om deel te word van hul plaaslike buurtwagte. Emden Els van die Radium-buurtwag kan bereik word by tel. 082 925 1065. Mense kan ook vir Chris Esterhuizen van die Roodekuil, Turfbult en Langkuil-buurtwag (RTL) bel by tel. 082 807 7933.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button