MunicipalNews

AfriForum help om waterpomp te herstel

“Water is ’n basiese reg en moet daagliks aan elke huishouding voorsien word. Dit is dus vir my belangrik om dadelik aandag te gee aan waterverwante probleme.”

Die AfriForum-tak in Mookgophong het die afgelope week ’n druk- en boorgatpomp herstel wat al ’n geruime tyd buite werking was.

Philip van Staden, voorsitter van AfriForum in Mookgophong, het in ’n media-verklaring gesê ’n nuwe elektroniese beskermingsmeganisme wat vervang is, het verseker dat die drukpomp, wat water vanaf die Nylstasie na die hoofreservoir vervoer, weer na wense funksioneer terwyl die boorgatpomp in sy geheel vervang moes word.

“Die boorgatpomp het uitgebrand omdat dit nie altyd deur die watertafel bedek word nie aangesien die watertafel se vlakke seisoenaal wissel. Ons moes dus ’n nuwe boorgatpomp aankoop en laat installeer,” het Van Staden gesê.

“Die elektroniese beskermingseenhede beskerm die pompe teen toestande soos om droog te loop, spanningsfoute en oorlading wat uiteindelik tot uitbranding kan lei.

Wanneer die pompe beskadig word, word die gemeenskap verrykend geraak en belemmer dit hul toegang tot lopende water vir huishoudelike gebruik. AfriForum het daarom ook ’n kenner aangestel om die pomp maandeliks te ondersoek en te verseker dat alle komponente nog in ’n wer-kende toestand is.”

Van Staden het ook vir Marlene van Staden, burgemeester, bedank vir die vinnige en positiewe reaksie wat hy ontvang het nadat hy die probleem onder haar aandag gebring het. “Die burgemeester se samewerking het ons AfriForum-tak in staat gestel om die probleem so gou moontlik op te los. Ons sal graag in die toekoms meer gereeld met die munisipaliteit wil saamwerk om algemene probleme in die gemeenskap aan te pak.”

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distriks-koördineerder vir Limpopo, het gesê hoewel die munisipaliteit verantwoordelikheid vir dienslewering in die gemeenskap moet aanvaar, is AfriForum bereid om hulp te verleen waar nodig.

“Dit is ons plig as burgerregteorganisasie om te verseker dat soortgelyke probleme vroegtydig uit die weg geruim word voordat dit buite beheer raak. Indien die munisipaliteit versuim om sy pligte na te kom, sal ons self by die herstelwerk betrokke raak,” het Grobbelaar gesê.

Marlene het by navraag aan Die Pos gesê die samewerking tussen die munisipaliteit en AfriForum is tot voordeel van die hele gemeenskap.

“Water is ’n basiese reg en moet daagliks aan elke huishouding voorsien word. Dit is dus vir my belangrik om dadelik aandag te gee aan waterverwante probleme wat onder my aandag gebring word. Indien die munisipaliteit nie voorraad van ’n sekere item het nie, neem dit ’n geruime tyd om dit aan te koop. Daarom help dit ontsettend baie as AfriForum in sulke gevalle kan help om probleme vinniger op te los.”

Die munisipaliteit het die afgelope ruk nóg drie boorgate herstel en het ’n paar ander probleme geïdentifiseer wat waterprobleme in die dorp veroorsaak. Daar word aandag aan dié probleme gegee, het sy gesê.

“Ek sê gereeld dat inwoners moet onthou dat die munisipaliteit hulle munisipaliteit is en dat die infrastruktuur en bronne soos jou eie eiendom beskerm moet word. Saam kan ons die beste munisipaliteit in Limpopo word. Hou moed!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button