Local newsNews

Sondela-student sterf in voertuigongeluk

Die voertuig waarin hulle gereis het het op die grondpad op pad na die Sondela-natuurreservaat gerol.

Personeel en studente van die Sondela-natuurreservaat is in rou nadat een van hul studente verlede naweek in ’n motorongeluk buite Bela-Bela oorlede is.

Drie studente van die Sondela Academy was op Sondagaand 7 Oktober in ’n voertuigongeluk betrokke waarin Carlita Heyns (19), ’n eerstejaarstudent by die Academy, gesterf het.

Die voertuig waarin die drie gereis het, ’n Nissan Juke, het volgens die polisie om ongeveer 18:00 op die grondpad direk langs die N1-snelweg op pad na die Sondela-natuurreservaat gerol.

Die studente was op pad om koeldrank by die nabygeleë Palm Plaza Caltex-vulstasie langs die N1 te gaan koop, lui ’n verklaring van Sondela.

Die stuk pad behoort nie aan Sondela self nie.

Paramedici is na die ongelukstoneel ontbied en het twee van die beseerdes na privaat hospitale vervoer. Heyns is egter op die toneel oorlede.

Die Sondela-personeel en -studente is hartseer oor haar dood, maar verlig dat die ander studente, wie se name nie bekendgemaak is nie, minder ernstige beserings opgedoen het, lui die verklaring.

Die polisie kon nog nie die oorsaak van die ongeluk bevestig nie.

Talle mense het hul medelye op Facebook met Heyns se familie gedeel en gesê haar dood is ’n groot verlies.

Elzabé Heyns, haar ma, het by navraag gesê haar dogter was altyd positief, avontuurlustig, lief vir die natuur en het elke geleentheid met ywer aangepak.

“Sy kon nooit stilsit nie en wou almal gelukkig maak. Sy was inder-daad die lig in ons en ander se lewens,” het Elzabé gesê.

“Vreemde mense het ons al gebel en vertel hoe Carlita hul lewens verander het.

“Mense sal hopelik inspirasie kry uit die herinneringe aan haar.”

Heyns het aan Hoërskool Generaal Hertzog in Emalahleni gematrikuleer en was veral ’n ywerige skut en netbalspeler.

’n Roudiens is op Woensdag 10 Oktober in Emalahleni vir haar gehou, en nog ’n gedenkdiens word op Vrydag 12 Oktober op Sondela vir haar beplan.

Sy laat haar ouers, Johan en Elzabé, asook haar suster, Juzané agter.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Volgens die polisie was daar nie ’n ander voertuig in die ongeluk betrokke nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button