Kaasmakers van Vaalwater wys hul staal by groot kampioenskap
Twee bokmelkkaaskenners van die Vaalwater-omgewing was vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar beoordelaars by die Suid-Afrikaanse nasionale jeugskoukampioenskap wat in George gehou is.
Christo Venter, bokmelkboer van Geluksfontein buite Vaalwater, wat ook nou betrokke is by veiligheidsgroepe in die omgewing, en Elias Sithole (36) ook van Geluksfontein, is deur Agri-Expo genader om die kaasbereiding op Donderdag 2 Oktober by die jeugskou te beoordeel.
Agri-Expo is ’n professionele promosie- en bemarkingsorganisasie vir landbou in Suid-Afrika. Die rolspelers in Agri-Expo is die regering, media en die publiek.
Sithole het met ’n traan in die oog gesê dat hy baie dankbaar is vir die geleentheid om te kon vlieg en dat dit vir hom lekker is om sy kennis met die kinders te deel. Volgens Venter is dit oor en oor die moeite werd wanneer mense wat by hom leer, so ooglopend dankbaar is.
Venter het aan Die Pos gesê dat Sithole al van 17-jarige ouderdom op Geluksfontein opleiding in kaasmakery ontvang het en heelwat pryse in Brittanje gewen het met die kaas wat hy maak.
Talent Mathye (15), ’n gr. 9-leerder aan Mohlakamotala High School in Vaalwater, is as ringgids saamgenooi. Die ringgids is verantwoordelik vir die insameling van punte en die aandra van bestanddele soos melk, asook die verseël en aflewering van die punte. Talent het gesê dit was vir hom baie lekker om die konyne en al die diere te kon sien.
Die wenners (skouman) in die suiwelberei-ding in die senior kategorie was Christiaan Stassen van Noordwes. Thegan Kuyler van die Westelike Provinsie (WP) was die junior skoumeisie en Dirk-Harold Mostert van die WP was die junior skouman.
Die kategorieë vir deelname aan die kampioenskap is: perde, varke, pluimvee, konyne, sierduiwe, wedvlugduiwe, kulinêre kuns en suiwelbereiding, asook verskillende kategorieë vir beeste, skape en bokke.
Venter het die ondersteuning wat die provinsiale regering van Limpopo aan landbou in Limpopo gee as “tragies” beskryf. Hy het gesê die WP kry uitstekende ondersteuning van hul provinsiale regering en dat die algehele punte boekdele spreek.
Die WP het 290 punte tydens die skou ingepalm, Noordwes 115, die Oos-Kaap 84, Gauteng 78, die Vrystaat 72, Namakwaland 60, Mpumalanga 34, Noordwes-Noord 24, KwaZulu-Natal 20 en Limpopo 7 punte.
Venter het ’n beroep op rolspelers gedoen om belang te stel en kundigheid in die landbou by die jeug te help kweek.



