
Twee rowers wat die Settlers-kliniek in 2016 beroof het, is op Dinsdag 9 Oktober in die Modimolle-streekhof gevonnis.
Volgens kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het Lerumo Mapheto (29) en Thabo Marule (32) op 15 Augustus 2016 twee veiligheidswagte — ’n man en vrou — by die Settlers-kliniek oorval en beroof.
Die verdagtes het die wagte met ’n windpistool aangehou en hul van ’n selfoon en ’n vuurwapen beroof.
Vier verdagtes is kort ná die roof in hegtenis geneem en aangekla van roof met verswarende omstandighede.
Twee van die verdagtes is gedurende die ondersoek vrygelaat nadat hulle nie met die misdaad verbind kon word nie, het Schutte gesê.
Ná twee jaar in aanhouding is Mapheto en Marule in die Modimolle-streekhof skuldig bevind en elkeen 10 jaar tronkstraf opgelê.
Albei se straf sal in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria uitgedien word.



