
Sers. Humbulani Mulaudzi (39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33), konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) en konst. Simon Sebelebele (40) is einde September en begin Oktober deur lede van die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoeke (Valke) in hegtenis geneem en aangekla van korrupsie, gewapende roof en ontvoering.
Hulle het ’n man glo op Vrydag 7 September van ’n plaaslike dobbelplek na ’n verlate woning geneem en hom na bewering gedreig met ’n vals aanklag van geldwassery as hy nie ’n stewige bedrag omkoop-geld wou betaal nie.
Die beamptes het R190 000 se omkoopgeld by die man geëis, het kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder, vroeër gesê.
Die vier is ná ’n week in aanhouding borgtog van R5 000 elk in die Bela-Bela-landdroshof toegestaan.
Die borgtogvoorwaardes vereis dat hulle elke Vrydag by die Bela-Bela-polisiestasie moet aanmeld, nie met die getuies mag inmeng nie en om nie twee huisadresse in die Phagameng-township in Modimolle, asook een adres in die Bela-Bela-township te besoek nie.
Indien hulle die voorwaardes oortree, kan ’n lasbrief vir hul inhegtenisname goedgekeur word, lui die klagstaat.
Kol. Lindie Marx, Bela-Bela-stasiebevelvoerder, het vroeër aan Die Pos gesê in terme van die polisie se dissiplinêre reëls van 2016 moet die beamptes terugkeer werk toe totdat ’n paneel van hooggeplaastes in die polisie uitspraak lewer of hulle geskors moet word of nie.
Die vier het voor Woensdag 10 Oktober reeds hul vertoë aan die paneel gestuur.
Die Pos het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, uitgevra oor waar die proses tans staan, maar hy het gesê interne prosedure is aan die gang en hulle moet tyd gegun word totdat finale uitspraak gelewer word.
Die vier se volgende hofverskyning vind op Vrydag 9 November plaas.
- Hoewel die Valke hard werk om korrupsie in die provinsie en land hok te slaan, is een van hul eie beamptes op Maandag 22 Oktober in Mokopane tronkstraf opgelê weens korrupsie.
Maluleke het by navraag gesê Papi Jonathan Lebese (41), ’n voormalige konstabel by die Valke se ernstige misdaadeenheid, is in die Mokopane-streekhof skuldig bevind op drie aanklagte van bedrog en is 14 jaar tronkstraf opgelê. Die hof het Lebese onderskeidelik tot ses en agt jaar tronkstraf op die aanklagte teen hom gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, het Maluleke gesê.
Lebese het tussen April 2014 en Februarie 2015 ’n bedrogsaak ondersoek, maar het omkoopgeld van R65 000 by die klaer en die beskuldigde in die saak geëis sodat Lebese nie die klaer se borgtogaansoek teenstaan nie, het Maluleke gesê.
Die omkoopgeld is op verskillende tye aan Lebese uitbetaal, maar dit het onder die aandag van die Valke gekom en hy is in hegte-nis geneem. Die hof het Lebese aanvanklik borgtog toegestaan, maar het dit teruggetrek toe hy versuim het om vir sy hofsake op te daag, het Maluleke gesê.
Lt.gen. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die vonnis verwelkom.
“Ons hoop dat hierdie vonnis ander wat onder ons range beklee herinner dat diegene wat besluit om misdade te pleeg, nie vir ons sal kan wegkruip nie,” het Lebeya gesê.



