CrimeNews

Hoë amptenaar aangekeer oor beweerde bedrog met rybewyse

Die kantoor is gedeeltelik tydens ’n brand vernietig en brandstigting is vermoed aangesien die brand die gedeelte van die kantoor wat deur die ondersoek geraak is, beïnvloed het.

Die maandelange ondersoek na beweerde korrupsie in die verkeerskantoor in Mookgophong het verlede week tot die inhegtenisname van ’n senior verkeersbeampte in dié kantoor gelei.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het in ’n verklaring gesê die inhegtenisname volg ná ’n forensiese ondersoek wat in Oktober 2017 deur die departement van vervoer in Limpopo se teenkorrupsie en bedrogeenheid van stapel gestuur is.

Die departement van vervoer het in April vanjaar kennis gegee dat geen nuwe aansoeke vir leerling- en rybewyse by die verkeerskantoor in Mookgophong gedoen mag word nie weens bewyse wat tydens die ondersoek aan die lig gekom het.

Die kantoor is egter later in April gedeeltelik tydens ’n brand vernietig en brandstigting is vermoed aangesien die brand die gedeelte van die kantoor wat deur die ondersoek geraak is, beïnvloed het.

Inwoners van Mookgophong moes vir die gelag betaal toe hulle gedurende dié tydperk nie rybewyse kon hernu of kon aansoek doen vir nuwe rybewyse nie. Hulle moes noodgedwonge na Modimolle of Mokopane ry om dit te doen.

Die senior beampte (40) van Mookgophong is op Donderdag 18 Oktober net ná 16:00 in hegtenis geneem op twee klagte van korrupsie.

Haar naam kan eers genoem word sodra sy op Maandag 10 Desember in die hof verskyn.

Die Pos verneem die klagte hou ver-band met rybewyse wat glo uitgereik is sonder dat die persoon deur ’n toets-beampte getoets is en weens die ongemagtigde uitreiking en goedkeuring van rybewyse. Die wet bepaal dat geen persoon opsetlik of weens nalatigheid ’n leerling- of rybewys mag uitreik sonder dat die persoon getoets is nie.
Daar is reeds ’n klagte by die polisie in Mookgophong ingedien.

Nog ’n persoon, ’n 47-jarige bestuursverteenwoordiger, het volgens Van Staden op Maandag 22 Oktober bedank weens sy vermoedelike betrokkenheid by die sake. Hy is egter nog nie aangekla nie.

“Die inhegtenisname van ’n amptenaar by die Mookgophong-verkeersdepartement dien as ’n voorbeeld oor hoe veelpartyregerings doeltreffend kan funksioneer. Die VF Plus verwelkom die optrede waarin die amptenaar in hegtenis geneem is op ’n aanklag van bedrog,” het Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus, in ’n mediaverklaring oor die aangeleentheid gesê.

Maritz het gesê die VF Plus sal nie skroom om op te tree teen die plundering van munisipaliteite nie.

“Die munisipaliteit het nog geen amptelike verslag oor die ondersoek ontvang nie, maar verwelkom die inhegtenisname en is verheug oor die vordering wat gemaak is. Ons ondersteun die geveg teen korrupsie en bedrog,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

Arrie Opperman, hoof van die verkeersafdeling in Mookgophong, het aan Die Pos gesê dat die situasie baie sensitief is en wou vir eers nie kommentaar lewer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button