Kleurvolle drawwers en stappers versier Bela-Bela se strate
Die Superspar-marathon wat op Saterdag 10 November in Bela-Bela aangebied is, was weer ’n groot sukses.
Superspar Bela-Bela, die Waterberg-distrikmunisipaliteit, Hoërskool Warmbad en die Warmbad-marathonklub het kragte saamgesnoer om die marathon aan te bied.
Atlete van regoor die land, en selfs Botswana, het vroegoggend by Hoërskool Warmbad aangetree om aan die 42,2 km, 21,2 km, 10 km of 5 km-wedlope deel te neem.
Hoewel die Bosveldson min genade vir die drawwers gehad het, het die organiseerders en vrywilligers vir genoeg verversings langs die pad gesorg.
“Die wedloop groei jaarliks en ons het vanjaar meer as 1 100 atlete op die pad gehad,” het Neels Venter, voorsitter van die marathonklub, gesê.
Drie ambulanse, agt verkeerspersoneellede met hul voertuie en 30 beamptes was ook die dag aan diens.
“Die hitte het ’n groot rol gespeel, veral vir die 42,2 km-atlete, maar die vrywilligers by die waterpunte het hulle puik van hul taak gekwyt en gesorg dat die atlete genoeg gehad het om te eet en te drink,” het Venter gesê.
Die wenners van die 42,2 km het elk R10 000 ontvang en die wenners van die 21,2 km R1 000 elk. Vir die wenner van die 10 km vroue-wedloop het daar ’n prys van R3 000 gewag.
Die eerste 350 atlete van die 42,2 km, asook die eerste 150 atlete van die 21,1 km, het ’n gratis T-hemp ontvang.
Deelnemers aan die 5 km-wedloop, wat individue, groepe en gesinne ingesluit het, het baie pret gehad en die wedloop op hul gemak voltooi.
Volgens die organiseerders het die 11 waterpunte altesame 3 000 watersakkies en 1 100 liter koeldrank aan die atlete uitgedeel. ’n Totaal van 55 ysblokke wat 20 kg elk weeg is ook gebruik om die watersakkies koud te hou.
“Ek wil baie dankie sê aan die gemeenskap, borge en organiseerders vir hul lojale ondersteuning.
- Die manswenner van die 42,2 km was Charles Soza en die vrouewenner was Danke Erasmus.
Die pryswenners by die 21,2 km was Reghan Magwai en Andrea Steyn terwyl Cornelia Joubert die 10 km vroue-item gewen het.



