MunicipalNews

Mosie van wantroue teen DA-burgemeester

“Ons vermoed dié mosies het te doen met die forensiese oudit na die raad se geldsake wat feitlik voltooi is. Die ANC en EFF sal verkies dat die uitslae nooit bekend gemaak of aan die raad voorgelê word nie,” het Van Staden in reaksie gesê

Die stof kry nie kans om te gaan lê by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nie.

Die DA-se bestuurspan is weer in die spervuur nadat die ANC, sowel as die EFF, die afgelope week mosies van wantroue ingedien het.

Die ANC het ’n mosie van wantroue teen Marlene van Staden, burgemeester, ingedien. Die mosie wat deur die EFF ingedien is, vra dat die DA se hele politieke bestuurspan — die burgemeester, Dingaan Motshwene, speaker, en Hercules Louw, hoofsweep, verwyder word.

Die EFF voer aan dat die DA hulle nie geken het in besluite nie, soos Van Staden se versoek om ingryping deur die provinsie, waarna die munisipaliteit onder artikel 139(b) geplaas is. In hul brief aan die munisipaliteit versoek hulle dat ’n raadsvergadering binne sewe dae gehou word. Die party kon nie betyds vir verdere kommentaar bereik word nie.

Volgens Rufus Mahoro, hoofsweep van die ANC, is dit onder Van Staden se leierskap dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas is. “Sy moet verantwoordelikheid hiervoor neem as hoof van die politieke bestuurspan en kan nie die munisipale bestuurder blameer nie. Hy moes verant-woording aan haar doen,” het hy gesê.

Die Pos het vroeër breedvoerig berig oor die stram verhouding tussen Van Staden en die voormalige bestuurder OP Sebola. “Die feit dat ons onder administrasie geplaas is, wys dat daar probleme met die leierskap is. Ons het leierskap nodig wat ons munisipaliteit kan vernuwe,” het Mahoro gesê.

Die ANC het 13 setels in die munisipale verkiesing in Augustus 2016 gewen, die DA 7, die EFF 6 en die VF Plus 2. Die raad bestaan uit 28 setels wat elk deur ’n raadslid verteenwoordig word. Die DA en die VF Plus is nasionaal in koalisie en die DA het ’n samewerkingsooreenkoms met die EFF gesluit.

Indien dié drie partye saamgestem het oor sake voor die raad, het hulle ’n meerderheid van 15 stemme teenoor die ANC se 13 stemme gehad. Verhoudings op plaaslike en nasionale vlak tussen die DA en EFF het egter die afgelope ruk verbrokkel.

“Ons vermoed dié mosies het te doen met die forensiese oudit na die raad se geldsake wat feitlik voltooi is. Die ANC en EFF sal verkies dat die uitslae nooit bekend gemaak of aan die raad voorgelê word nie,” het Van Staden in reaksie gesê. “Benoude katte maak benoude spronge. Sedert ons onder administrasie is en Mapule Makoko as waarnemende munisipale bestuurder in beheer is, is dit nie so maklik om weg te kom met onderduimshede nie.

Die geldkrane is toegedraai en sekere mense hou nie daarvan nie. Daar is nou fiskale dissipline en toegang tot tenders is nie so maklik nie. Met die nasionale verkiesing om die draai wil hulle toegang tot fondse hê,” het sy gesê.

Volgens die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) is die munisi-paliteit “tegnies bankrot” met Eskom wat ongeveer R300 miljoen eis. Daar is reeds gedreig dat die provinsie die munisipale raad sal ontbind indien hulle nie die geldsake kan regruk nie.

CoGHSTA het die finansiële herstelplan die afgelope week goedgekeur en dit kan nou geïmplementeer word. Dit behels beter fiskale beheer oor die geldsake en toestemming om bykomende inkomstebronne te ontgin, het Van Staden gesê. Dit sal glo ongemagtigde en ongewenste uitgawes kniehalter. Maandelikse vorderingsverslae moet aan Jerry Ndou, die LUR van CoGHSTA voorgelê word.
Die besluit om die volgende raadsverga-dering te belê, is in die hande van Motshwe-ne, die speaker. Hy oordink glo egter nog dié besluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button