CrimeNews

Verdagte polisiebeamptes sit nou sonder werk

Die Bela-Bela-polisie het aan Die Pos bevestig dat die vier polisiebeamptes van die dorp wat op aanklagte van korrupsie, gewapende roof en ontvoering in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het, afgedank is.

Sers. Humbulani Mulaudzi(39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33), konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) en konst. Simon Sebelebele (40) is einde September en begin Oktober deur lede van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade, die Valke, in hegtenis geneem.

Konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37).
Sers. Humbulani Mulaudzi(39).
Konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33).
Konst. Simon Sebelebele (40).

 

Dit het gevolg nadat hulle glo ’n man vanaf ’n plaaslike dobbelplek na ’n verlate woning buite die dorp geneem en hom gedreig het om R190 000 se omkoopgeld aan hulle te betaal in ruil daarvoor dat hulle hom nie van geldwassery aankla nie, het kapt. Matimba Maluleke, Valke-woordvoerder, vroeër gesê.

Die hof het borgtog van R5000 elk aan die beskuldigdes toegestaan.

Hulle borgvoorwaardes het vereis dat hulle elke Vrydag by die Bela-Bela-polisiestasie moet aanmeld, nie met getuies mag inmeng nie en om nie twee adresse in die Phagameng-township in Modimolle, asook een adres in die Bela-Bela-township, te besoek nie.

Die voorwaarde dat hulle weekliks by die polisiestasie moes aanmeld is, op Vrydag 9 November tydens hulle laaste verskyning aangepas.

Die vier het in terme van die polisie se dissiplinêre regulasie van 2016 terug werk toe gekeer as aktiewe polisielede nadat hulle borgtog gekry het — hangende ’n besluit of hulle geskors word of nie.

Dié interne proses is onafhanklik van die hofsaak gehou en is deur hooggeplaastes in die polisie gelei.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale woordvoerder, wou nie hieroor uitbrei nie en die bron by die stasie het ook gevra om anoniem te bly.

Die Pos verneem die vier het reeds in Oktober hul vertoë om hul werk te behou, aan die paneel gestuur. Dit blyk dat die vertoë nie gunstig oorweeg is nie en hulle is begin November ingelig dat hulle nie net geskors is nie, maar afgedank is.

Die vier was netjies aangetrek toe hul verlede Vrydag in die beskuldigingsbank gestaan het. Hul regsverteenwoordiger het die hof gevra om die borgvoorwaardes aan te pas omdat hulle nou “werkloos” is.

Die saak is vir verdere ondersoek na Donderdag 13 Desember uitgestel.

Die vier is gewaarsku om op dié dag teenwoordig te wees en hulle borgtog is verleng.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button