Die slagting op die N1-snelweg duur onverpoosd voort met sewe mense wat dood is na ’n botsing tussen Modimolle en Mookgophong. Die oorledenes was almal Zimbabwiërs. ’n Volvo-vragmotor en ’n Daihatsu-afleweringsvoertuig het op Sondagoggend 25 November reg van voor gebots en aan die brand geslaan, het Matome Moremi-Taueatsoala van die provinsiale verkeersdepartement, gesê. Die snelweg was tydelik gesluit vir verkeer. Daar word vermoed dat uitputting die ongeluk veroorsaak het. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Foto: Verskaf
Movember was die maand vir bewusmaking van mans se gesondheid. Groot snorre en baarde is gekweek en mans is aangemoedig om op hul dieet te let, gereeld te oefen en jaarliks vir mediese ondersoeke te gaan. Stefan Oberholzer, trokdrywer van Vaalwater, het breed geglimlag toe hy hoor hy is, sonder dat hy weet, besig om ’n groot projek te ondersteun met sy netjiese gemanikuurde snor en baard.
Klein Anrea Robbertse van Vaalwater het haar heeltemal misgis met ’n swaai by haar kleuterskool in die dorp. Die swaai het haar teen die oortjie getref. “Dit het behoorlik gelyk asof iemand haar oor probeer afkap het,” het haar ma, Chantal, aan Die Pos gesê. Die oorskulpie is chirurgies met spesiale gom geheg. ’n Melkskommel later was die brawe meisie weer gereed vir aksie. Met die vakansie op hande, word ouers gewaarsku om liefs toesig te hou waar kinders in ’n speelpark speel.
Die VLU-Nylstroom het op Dinsdag 20 November hul laaste vergadering vir die jaar by die Abraham Kriel-kinderhuis gehou. Marlene van Staden, burgemeester, het oor die dorp se watersituasie gepraat. Daar is ook tjeks aan die kinderhuis en Klub Helpmekaar oorhandig. Die VLU se nuwe bestuur is verkies en lede sien uit na ’n leersame en interessante jaar. Die nuwe bestuur is Elize Alberts (sekretaresse), Magda Pretorius (tesourier), Dorothy de Beer (beoordelaar-sameroeper) en Babsie Grobler (addisionele lid). In die tweede ry is Rita Ras (hulp-beoordelaar), Wilna van der Heever (voorsitter), Joan Schoeman (vise-voorsitter) en Minnie van Vuuren (addisionele lid). Agter is Marie Kemp (hulp-tesourier) en Annemarie Blignaut (addisionele lid) en heel agter is Elsa du Plessis (skakelbeampte). Belangstellendes kan tel. 082 707 9506 skakel om aan te sluit.