
Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus), skryf:
Elkeen wat in die afgelope algemene verkiesing vir die VF Plus gestem het, het rede om met reg trots te voel op hul besluit.
Die merkwaardige groei van die VF Plus dien as bewys dat dit die regte keuse was.
Die party en sy leierskap wil opreg dankie sê aan al die kiesers wat gehelp het om die VF Plus nou onteenseglik een van die Groot Vyf politieke partye in Suid-Afrika te maak met uitgebreide verteenwoordiging op nasionale en provinsiale vlak.
Kiesers het met meer as 400 000 landgenote die VF Plus se hand gevat en hul verbind tot ʼn party wat sê dat die agteruitgang in die land nie langer kan voortgaan nie.
Hulle het hul verbind tot die VF Plus se siening dat daar teruggeslaan moet word teen die beleid en vergrype van ʼn regering wat die land tot op die randjie van ekonomiese ineenstorting gelei het en onder wie menseverhoudings ’n sorgwekkende laagtepunt bereik het.
Die boodskap wat die VF Plus saam met sy ondersteuners met hierdie verkiesingsuitslag uitgestuur het, is hard en duidelik: Die mense van Suid-Afrika het genoeg gehad.
Kiesers se stemme en steun kan nie meer as vanselfsprekend aanvaar word nie en na dese kan die regering en ander opposisiepartye die VF Plus nie langer ignoreer of as irrelevant afmaak nie.
Sukses bring natuurlik groter verantwoordelikhede. Die VF Plus besef dit en verbind hom daartoe om sy ondersteuners, en al die mense van Suid-Afrika in groter landsbelang met toegewydheid en harde werk te beloon.
Die VF Plus is daartoe verbind om hom op ’n praktiese, uitvoerbare wyse te beywer vir selfbeskikking en die beskerming van minderhede en om te help bou aan ’n Suid-Afrika waarin al sy inwoners geborge en veilig kan voel met gelyke regte en geleenthede vir almal.
Die finale uitslag van 2019-verkiesing is die begin van hierdie pad. Die VF Plus nooi alle Suid-Afrikaners wat sy siening en waardes deel om saam met hom op hierdie pad van herstel en versoening te stap.
Suid-Afrika is ’n wonderlike land met baie geleenthede. Word saam met ons deel van ’n wenspan wat saam ’n beter toekoms wil bou.
Die VF Plus se aantal parlementslede het meer as verdubbel tot tien. Die party het 11 wetgewerslede vanuit elke provinsie buiten KwaZulu-Natal en sal ook twee verteenwoordigers in die Nasionale Raad van Provinsies hê.
Die party het met die vorige verkiesing in 2014 slegs in vyf stemdistrikte die meerderheid stemme op hom verenig. In hierdie verkiesing het die party meer as 114 stemdistrikte landwyd gewen.



