Die kiesers se boodskap uit ’n leke oog
Hoewel aanvaar word dat ’n vergelyking tussen munisipale en nasionale verkiesings nie sonder meer op dieselfde grondslag beoordeel kan word nie, is dit tog my leke mening dat ’n mens sekere gevolgtrekkings uit ’n vergelyking kan maak.

Gerhardt Breytenbach, Modimolle, skryf:
Die uitslae van die 2019 nasionale verkiesing in die Modimolle-Mookgophong-kiesafdeling het ’n heel interessante wending sedert 2016 geneem.
Hoewel aanvaar word dat ’n vergelyking tussen munisipale en nasionale verkiesings nie sonder meer op dieselfde grondslag beoordeel kan word nie, is dit tog my leke mening dat ’n mens sekere gevolgtrekkings uit ’n vergelyking kan maak. Volgens die statistieke wat ek kon vind, blyk die vergelyking soos volg:
Die ANC het in die 2016 munisipale verkiesing 47,41% stemme gekry en in 2019 het hulle 58,60% gekry — ’n toename van 11,19%. Die DA het in 2016 altesame 24,76% stemme gekry en in 2019 het hulle 17,76% gekry — ’n afname van 7%. Die EFF het in 2016 altesame 19,37% van die stemme verwerf en in 2019 het hulle 11,06% gekry — ’n afname van 8,31%. Die VF Plus het in 2016 altesame 5,92% stemme verwerf en in 2019 het hulle 9,97% gekry — ’n toename van 4,05%.
Indien hierdie uitslae met die provinsiale uitslae tussen 2016 en 2019 vergelyk word, is dit opmerklik dat die ANC provinsiaal en nasionaal ietwat steun verloor het terwyl die EFF se steun opmerklik toegeneem het. Plaaslik het die EFF egter steun verloor terwyl die ANC se steun weer opmerklik toegeneem het, in teenstelling met die provinsiale en nasionale tendens. Nog ’n interessante feit is dat die uitslae vir die Thabazimbi-distrik ook dieselfde tendens as die Modimolle-Mookgophong-distrik toon.
Die afname in die DA se steun en die toename in die VF Plus se steun was nasionaal opmerklik en het menige kenner en kommentator verbaas. In die media is die algemene gevolgtrekking dat die nasionale leierkorps van die DA verskeie flaters begaan het wat die tradisioneel blanke Afrikaanse kieser van die DA vervreem het. Voorbeelde hiervan is die populistiese uitsprake van die DA-leiers in die Ashwil Willemse- en Schweizer-Reneke-gevalle, asook die onbeholpe hantering van die De Lille- en Zille-kwessies. Hierdie gevalle het inderdaad kommer by die DA geskep, waarna die DA ’n aggressiewe veldtog teen die VF Plus geloods het in ’n poging om oorloopstemme na die VF Plus te verhoed.
Die VF Plus hou geen bedreiging vir die land se demokrasie in nie terwyl die vlaag van korrupsie, diefstal, swak dienslewering en die ineenstorting van staatsinstellings wel so ’n bedreiging inhou. Die gevolg was dat die veldtog teen die VF Plus as ’n verdere aanval op die Afrikaner se identiteit beskou is wat menige kiesers wat getwyfel het, bloot net oortuig het om wel hul steun agter die VF Plus te gooi. Dit spreek vanself dat hierdie veldtog van die DA klaaglik misluk het en wie ook al op hierdie strategie besluit het, was bloot onnosel. Hierdie flater gaan nog lank by die DA spook.
Die verlies aan stemme vir die EFF daarenteen is dalk na my mening ’n bedekte seën. Ek skryf dit toe aan die feit dat kiesers in Thabazimbi en Modimolle-Mookgophong vir die afgelope twee jaar gesien het dat die EFF heeltemal faal in plaaslike rade waarin hulle ’n mate van mag gehad het. Hierdie mag is vir persoonlike en politieke gewin uitgebuit en die EFF het gewys dat dienslewering en die behoeftes van die gemeenskap geen prioriteit vir die EFF is nie. Die oorloop van stemme uit die EFF terug na die ANC behoort daarom eintlik verwelkom te word.
Die verskuiwing van die stemdemografie in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sal beslis ’n invloed op die toekomstige bestuur van die munisipaliteit inhou en ’n moontlike tussenverkiesing in die afsienbare toekoms kan nie uitgesluit word nie.



