
Chris Wagner, Bela-Bela, skryf:
’n Mens gun niemand, nie eens ’n opposisie politieke party, die onbeskryflike uitdagings om hierdie mooie land met soveel potensiaal weer op koers te kry na waar hy hoort nie.
Die ekonomie, beleggersvertroue en infrastruktuur is bykans vernietig deur wanbegrip, onbegrip en kortsigtige en eenogige eiebelang.
Vir enige party om alles vir almal te probeer wees, het nog nooit ons diverse land ten goede gestrek nie.
Van groot opgee oor “Niks gaan verander nie” asook “Ready to govern” het alles dadels gekom.
Vars en soms teenstrydige insig en verwagtinge moet saamgeslyp word tot ’n eendragtige benadering tot die praktiese werklikhede.
Die land sal wel weer hoop kan herwin en kop optel deur die uitspel van duidelike beleidsoogmerke wat nie langer deur dubbelpratery verwar word nie.
Ek is dankbaar dat so baie, wat gelate, weleer skuiling gaan soek het agter die valse sekuriteit van getalle, hul gedagtes en harte georden het tot ’n gesonde identiteitsbesef.
Kom ons bou liewer saam deur elkeen alles binne sy besondere vermoëns voluit in te ploeg sodat die rugryers en kapers, hoe langer hoe meer, aan die kaak gestel sal word.



