
Volgens die polisie het die voorval tussen die Mantsole-weegbrug en die afrit na Bela-Bela en Settlers plaasgevind toe rowers ’n Scania-trok gekaap het.
Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, was twee Malawiese mans op Woensdag 22 Mei onderweg in ’n noordelike rigting toe hulle kort voor 22:00 deur ’n “polisievoertuig”, ’n Toyota Quantum-minibus met ’n blou lig op die paneelbord, afgetrek is.
“’n Kastige polisiebeampte, wat ’n Metro-polisie T-hemp en khakikleurige broek gedra het, het die bestuurder van die trok genader en hom vir sy bestuurslisensie gevra. Die bestuurder is toe gevra om uit te klim en na die minibus te stap waar nog ’n kastige beampte uitgeklim en ’n vuurwapen op hom gerig het,” het Maponya gesê.
Die bestuurder se passasier is na die minibus gebring waar hulle beveel is om in te klim en plat op die sitplekke te lê. Daar het die twee slagoffers drie ander mans in gewone klere gesien wat glo deel van die groep rowers was, het Maponya gesê.
Die rowers het toe met die trok én met die minibus van die toneel weggery.
Die Malawiese mans is na ’n onbekende plek geneem waar hulle afgelaai is. Hulle het op ’n manier die Palm Plaza Caltex-vulstasie langs die snelweg bereik en die polisie ontbied. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die waarde van die trok en vrag word op ongeveer R1 miljoen beraam, het Maponya gesê. ’n Saak van gewapende roof word ondersoek.
“Ons raai motorryers aan om versigtig te wees wanneer hulle snags op die snelweg ry en om enige ongerymdhede dadelik aan te meld,” het Maponya gesê.
- Die vyf vermeende N1-rowers wat op Donderdag 4 April by die Kranskop-tolhek in hegtenis geneem is, se hofsaak duur intussen voort.Frans Baloyi (45), Figo Madisha (30), Siphosihle Tshepiso Mahlangu (31), Dennis Hoba (33) en John Fine (33) is aangekeer nadat hulle glo ’n groep buitelanders, ook van Malawi, naby die Settlers-Codrington oorbrug langs die snelweg beroof het, het die polisie vroeër gesê.Die vyf is aangekla van gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, afpersing en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.Hulle sou op Vrydag 24 Mei in die Bela-Bela-landdroshof ’n borgtogaansoek gebring het, maar die saak is intussen na Woensdag 5 Junie uitgestel.



