Diere nie geslag omdat toerusting buite werking is
Die varke het 'n gemiddeld van 2,5 kg elk verloor in die tyd dat hulle sonder kos was. Dit het ’n effek op inkomste.
’n Boer van Modimolle was op Woensdag 5 Junie erg ontstoke toe hy besef dat sy varke reeds sedert die Maandagoggend sonder kos by die slagpale in die dorp staan.
“Al is die diere daar om geslag te word, behandel ’n mens hulle darem ordentelik,” het Eben van der Walt gesê. Hy het voer vir sy sewe varke gaan koop.
Meer as 50 ander varke het ook in verskillende hokke gestaan en wag. Die hokke was skoon en daar was drinkwater beskikbaar.
Die varke sou, volgens Van der Walt, die Maandag geslag word.
“Ek het Maandagmiddag ’n oproep gekry dat die diere eers Dinsdag geslag sou word omdat ’n masjien gebreek het.”
Hy het Woensdag besef dat sy diere nog al die tyd sonder kos gestaan het toe hy die vleis wou oplaai. Van der Walt sê hy skat dat sy varke gemiddeld 2,5 kg elk verloor het in die tyd dat hulle sonder kos was. Dit het ’n effek op sy inkomste.
John Koka, bestuurder van die slagpale, het by navraag verduidelik dat die varkpot (scalding pot) wat gebruik word om die hare van die varke se velle af te skraap, se element stukkend was en dat hulle moes wag vir ’n elektrisiën om dit te vervang.
“Volgens die Wet op Vleisveiligheid van 2000 moet die diere rus op die dag voordat hulle geslag word. Ons moet net verseker dat hulle drinkwater het. Dit is ook winter, wat dit makliker vir die varke maak. Ons begin slag so gou as wat die varkpot weer in werking is.”
Al die varke is Woensdagmiddag geslag.
“Ons het die eienaars van die diere gekontak en gesê hulle kan hul diere kom haal. Nadat ons die situasie verduidelik het, het hulle besluit om hul diere hier te los totdat ons kan slag,” het Koka gesê.
Benjamin Sithole, ’n inspekteur van die dierebeskermingsvereniging in Mokopane, het deurgery om die kwessie te ondersoek. “Toe ek Woensdag opgedaag het, het die tegnikus pas aangekom. Die proses is glo met ’n dag vertraag weens die gebreekte toerusting. Die slagpale is nie ingerig om diere te voer nie. Ek het daarop aangedring dat die varke onmiddellik geslag word en gewag totdat minstens die helfte geslag is en ons seker is die proses is aan die gang,” het hy gesê.



