Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier (VF Plus), skryf:
Die rassistiese en verdelende uitsprake van Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, is onaanvaarbaar.
Die VF Plus sal daarop aandring dat die regering onverwyld teen haar optree.
Die ironie ontgaan Mandela straks dat sy vanuit ’n suksesvolle Eurosentriese land ’n kwetsende aanval op blankes in haar eie land doen en hulle “gronddiewe en apartheidsapologete” noem wat soos “genooide gaste weier om te loop”.
Sy is boonop bereid om ’n ruim vergoeding te ontvang as ambassadeur in ’n Europese land.
Sy, as ambassadeur, is ’n verskoning aan alle Suid-Afrikaners verskuldig. Dit vrywaar haar nie van gevolge omdat sy die uitsprake vanuit die buiteland gemaak het nie.
Daar is ook geen manier hoe sy dit kan regverdig deur te sê dit is in haar privaat hoedanigheid gemaak nie. Enige uitspraak van ’n hoëprofiel-regeringsamptenaar op ’n sosiale mediaplatform vir die wêreld om te sien, is nie privaat nie.
Tot nou het die ANC-regering verkies om anderpad te kyk wanneer swart politici blankes aangeval en openlik rassehaat aangeblaas het.
In hierdie geval sal die regering nie net kan swyg nie aangesien een van sy ambassadeurs betrokke is. Stilswye sal ’n luide boodskap van goedkeuring uitstuur vir hierdie soort rassistiese retoriek wat werklik skadelik vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika is, maar wat ook groot skade aanrig aan die land se beeld in die buiteland.
Die VF Plus sal hierdie saak in die belang van alle vredeliewende Suid-Afrikaners nie daar laat nie. Mandela moet verantwoording doen vir haar onverantwoordelike optrede.



