LettersOpinion

Groot kommer oor toename en wreedheid van plaasaanvalle

Onlangse statistieke toon ’n toename van 60% in plaas­aanvalle oor die afge­lope dekade.

Genl.maj. Chris van Zyl, adjunkhoof­bestuur­der: Trans­vaalse Land­bou-unie SA (TLU SA) skryf:

TLU SA is uiters bekom­merd oor die toe­name en wreedheid van plaas­aan­valle in Suid-Afrika.

Onlangse statistieke toon ’n toename van 60% in plaas­aanvalle oor die afge­lope dekade.

Volgens TLU SA se ampte­like voorvalle­regis­ter, wat sedert 1990 bygehou word, is alte­same 1 125 plaas­aan­valle tussen 1990 en 1999 aange­meld. Tussen 2000 en 2009 is 1 407 gevalle (’n sty­ging van 22%) aange­meld en in die afge­lope nege jaar van 2010 tot 2019 is 2 616 plaas­aan­valle regoor die land (’n toename van 60%) aange­meld.

Hierdie syfers is skok­kend, maar vir TLU SA is dit nie net syfers nie. Dit is 2 022 lede van ons boerdery­gemeen­skap wat sedert 1990 uitge­moor is. Dit is 5 148 keer wat gesinne en plaas­werkers vir hul lewens gevrees het.

Dit is egter blyk­baar steeds nie belang­rik genoeg vir die rege­ring en pres. Cyril Rama­phosa om hier­die aanslag teen boere te veroor­deel nie. Daar was reeds ver­skeie geleent­hede vir die presi­dent om plaas­aan­valle en –moorde te erken. Die rede­like mens kan dus aan­vaar dat hy en, uiteraard die ANC-rege­ring, hierdie mis­daad as minder­waar­dig ag.

TLU SA is bewus daarvan dat mis­daad regoor die land buite beheer is met 56 moorde wat daag­liks gepleeg word.

Die hoë gevalle van geweld en doelge­rigte marte­ling in plaas­aan­valle en -moorde, is wat dié misdade van ander gewelds­mis­dade onder­skei. Daar is ’n duide­like verband tussen dié aan­valle en die grond­vraag­stuk.

Dit is belang­rik vir die boerde­ryge­meen­skap om te weet wanneer en hoe om op te tree en wat die gevolge van die op­trede in ’n plaas­aanval is.

TLU SA beveel, in die lig van hier­die syfers, aan dat daar ty­dens die vol­gende gesprek met die nasio­nale kommis­saris van polisie in Augus­tus aandag geskenk word aan die vol­gende sake: ’n land­bou­vriende­like reser­viste­stelsel, die inte­grasie van beskik­bare bronne en die er­ken­ning van plaas­aan­valle en-moorde as prioriteits­mis­dade.

Verder moet die land­bou­ge­meenskap fokus op die benut­ting van tegno­logie, kommu­nika­sie en inlig­ting en die opstel en instel­ling van gebeur­lik­heids­planne. (Brief verkort. — Red.)

Support local journalism

Add Die Pos as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button