Hier in die Bosveld drink ons mampoer!
Ons ontmoet in ’n koffiewinkel en Petro Maree haal versigtig drie pakkies toegedraai in wit-en-rooi vadoeke uit haar sak.
Dit word netjies staangemaak voordat sy die doek afhaal en drie bottels kristalhelder mampoer verskyn op die tafel.
Daar is ure se harde werk in dié bottels. Daar is vrugte gaan haal, geskil, gewag, gestook en gebottel. Dit was die moeite werd — dié nuwelingmampoerstoker het tydens die Mampoerstokersgilde se jaarlikse byeenkoms by die Willem Prinsloo-landboumuseum buite Pretoria, twee silwer toekennings en een brons toekenning gekry vir haar maroela-, aarbei- en waatlemoenmampoer.
“Ons het so ’n ruk gelede van die stad af na ’n plaas in die Alma-omgewing verhuis. Op een van die plase waarna ons gekyk het om te koop, het ons ’n man ontmoet wat mampoer stook. Dit het my verbeelding aangegryp en ek het navorsing begin doen. Ek het so ’n ruk gelede vir my ’n 60 liter-koperketel aangeskaf en ’n proeflopie begin stook,” vertel sy.
“Ons is gelukkig om so baie vrugte in ons omgewing te hê. Ek het ook al lemoene, suurlemoene en nartjies gebruik.” Sy leef haarself in dié stokperdjie uit en skuur skouers met diegene wat jare lank al weet hoe om goud uit vrugte te tap. “Daar is min jongmense wat stook.”
Die Mampoerstokersgilde beywer hulself daarvoor om die tradisie van drank stook te bewaar en hul lede woon opleidingskursusse by. Van die kategorieë waarin deelgeneem word, is vir witblits, gewone- of roomlikeur, ingelegde vrugte met witblits of mampoer as ’n basis, tradisionele medisyne en drank wat deur die inheemse bevolking gestook is.
“Die ou hande in mampoerstook wen jaarliks en ek het regtig nie verwag dat ek ná net ’n jaar ’n kans sou staan nie. Ek het kers opgesteek by baie van hulle om te hoor hoe ek die stokery moet aanpak,” vertel Maree.
Só ’n bottel mampoer is ’n tydsame storie. “Dit is veral die voorbereiding wat tyd en moeite verg. Ek het iemand wat vir my sakke vol maroelas optel. Die aarbeie en lemoene kry ek by boere in die omgewing. Die vrugte moet mooi ryp wees om ’n goeie smaak te gee. Met aarbeie moet die blare afgehaal word en die vrug gewas word voordat dit fyngekerf word. Hoe fyner dit is, hoe beter kom die sap uit. Die suiker word bygevoeg en die natuurlike fermentasieproses is gewoonlik drie tot vier weke lank totdat die suiker opgelos is.”
Daarna word die inhoud van die dromme gesif sodat net die vloeistof gestook kan word; anders brand dit vas, sê Maree.
“Dit neem ’n hele dag om een stooksel te stook — die vloeistof tap in ’n dun straaltjie uit en moet opgevang word. Die eerste deel is die voorloop en dit is bykans 80% alkohol. Dit word nie in die mampoer gebruik nie, maar wel as ontsmettingsmiddel.”
Die “hart” van die stooksel waar die geur van die mampoer lê, word dan opgevang. Die alkoholinhoud hiervan is so 45% tot 55% per volume, vertel sy. Die naloop, waarvan die alkoholvlak laer as 45% is, is dan volgende. “Dit is nie so lekker nie en kan weer ’n keer gestook word,” deel Maree haar mampoerkennis.
Maree se man, Willem, en ’n buurman word as proefkonyne gebruik wanneer sy stooksels met nuwe vrugte soos druiwe, grenadella, mango’s en perskes maak.
Dié stokery kan egter nie sommer netso aangepak word nie. Jan Taks wil weet van jou ketel en as jy drank wil verkoop, beter jy jou lisensie byderhand hou, waarsku sy.
Maree se ketel is reeds weer aan die kook. In die dromme wag daar vuurwarm habanero rissies vir ’n besondere byterige mampoer. Sodra dié veilig gebottel is, raak dinge rustiger en soeter, want dan wil sy haar hand en ketel aan ’n sygladde heuninglikeur waag.



