Inwoners kla weer oor Hideaway
Inwoners van die Hideaway Estate en vakansieoord op die Eersbewoond-pad buite Bela-Bela is opnuut bekommerd oor hul verblyfreg.

Die Pos het voorheen berig dat erwe glo destyds teen ’n winskoop geadverteer en verkoop is, maar omdat die grond as landbougrond gesoneer is, kon dit volgens wet nie deur die kopers afsonderlik gekoop word nie. Belangstellendes het in werklikheid ’n “huurkontrak” aangegaan om daar te mag woon.
Die departement van landbou het wel goedkeuring aan die oord verleen vir langtermynhuurooreenkomste. Die oord het ook aansoeke vir ’n aandeleblokskema ingedien.
Hofsake het egter gevolg nadat kopers gesê het hulle verkeer onder die indruk dat hulle lewenslange verblyfreg op die grond gehad het. Howe in Bela-Bela en Modimolle het intussen reeds ’n hele paar van die koopkontrakte nietig verklaar en die geld moes aan die kopers terugbetaal word.
Die oordbestuur het sedertdien, in samewerking met Geo Projects (’n ontwikkelingskonsultant), en die Bela-Bela-munisipaliteit, prosesse aan die gang gesit om die regte van die inwoners te beskerm. Die Bela-Bela belastingbetalersforum (BBTF) het inwoners ook bygestaan.
Volgens ’n kennisgewing van die munisipaliteit, wat in April vanjaar aan die bestuur uitgereik is, het die regte om die grond te gebruik egter nou verval.
Sekere voorwaardes, soos ontwikkelingsplanne en vereistes in terme van die dorp se grondgebruikskema, was glo steeds uitstaande. Die Pos is in besit van ’n afskrif van die kennisgewing.
Geo Projects het ook sedertdien weens ’n interne geskil as konsultant onttrek.
Intussen het Hideaway-inwoners Die Pos by verskeie geleenthede gekontak weens voortdurende probleme met die oord se sekuriteit en die veiligheid van inwoners.
Philip van den Heever, oordbestuurder, het in reaksie gesê hulle het reeds ’n nuwe, onafhanklike stadsbeplanner in diens geneem, wat beteken dat daar eersdaags 100 voltitel-eenhede beskikbaar sal wees.
Hy het gesê daar is verskeie vergaderings met die munisipaliteit belê wat daarop dui dat daar voortgegaan kan word met dorpstigting, wat in praktyk beteken dat elke eenheid of staanplek sy eie titelakte kan kry. “Die departement van landbou het in Augustus 2018 ook vir ons deeltitel-goedkeuring gegee, asook toestemming vir onderverdeling.”
Hy het voorts gesê onafhanklike toetse deur ’n geakkrediteerde maatskappy het getoon dat die water by Hideaway geskik is vir menslike gebruik en dat daar voortdurend gekyk word na oplossings om die misdaad in die omgewing te bekamp.
“Daar is ’n sindikaat in die omgewing wat nie net Hideaway teiken nie, maar ook talle omliggende lodges.
“Ons het ’n geruime tyd gelede ’n vergadering met die huurders gehad om ’n veiligheidsmaatskappy aan te stel vir patrollies en om wagte op strategiese punte te plaas. Dié verbeterde veiligheid sou teen ’n minimale koste aan die huurders beskikbaar gestel word, maar hulle het nie daarin belang gestel nie.”
Van den Heever het gesê daar is nou nuwe onderhandelings met ’n veiligheidsonderneming aan die gang en die elektriese heining by die oord word tans opgegradeer. Die oord se hoofhek word ook deur ’n veiligheidskamera gemoniteer.



